1994. Ek woon in Pretoria en reis daagliks werk toe na Endicott naby Springs. Die reis vat my oor Babsfontein, duskant Delmas draai ek af na Eloff en so tussen die plase deur kom ek uiteindelik by my bestemming uit. Ek beleef al die seisoene:
HOëVELDHERFS
Oorkant die wenakker staan
die mielieplante asof in gelid.
Hulle stuifmeelkrone,
volgeswelde koppe en
ou verinneweerde blare
is in 'n eentonige agtergrond
van vaalgeel en effe groen versmelt.
Sonneblomme met blare verdor,
ryp koppe berustend gebuig,
breek soms die kleurpatroon
na dofswart en geel.
Duskant is die swartgrys teer
wat vorentoe blinkend
met die horison skakeer.
Tussen dié twee grense vasgevang -
so ver as 'n mens se oog kan sien,
duisende spikkels helderwit vermeng
met ouderlingpilletjiepienk.
Dit is herfs op die Hoëveld
en langs al die paaie
staan die kosmos vol in die blom