top of page

Jan 2017.  My lewe is op die oomblik redelik deurmekaar met die dat ons na George toe verhuis het en ander persoonlike sake wat my

finansies redelik nadelig kan beinvloed.  Ek gaan deur fases van hoop en wanhoop en raak soms terneergedruk.  Vir een of ander rede het die Onse Vader gebed en veral die "laat U Koninkryk kom" die afgelope twee maande baie in my kop rondgemaal.  Tot so 'n mate dat ek bietjie navorsing gaan doen het oor die diepere betekenis daarvan maar kon niks vind wat my tevrede gestel het nie.  Twee Sodae terug

kyk ek na die "Boodskap" op TV en deur Ds. Greta Serfontein se boodskap antwoord God my vraag oor:

 

                 LAAT U KONINKRYK KOM

 

Eens Adam en Eva van die verbode vrugte eet

gaan hulle oë onmiddellik oop en hulle weet

daar is dinge wat goed is en daar is dinge van kwaad,

daar het die sondeval sy smet op natuur en mens gelaat.

 

As God saans wandel deur Eden se tuin het hulle gewag,

opgewonde om met Hom te deel die gebeure van die dag.

Daardie aand het hulle skugter tussen bome weggekruip

want daar het spanning in hul verhouding met God ingesluip.  

 

Mislei deur die satanslang wat teen God in opstand kom,

deins hulle weg van ʼn persoonlike verhouding met Hom.

Inteendeel, die sondige mens wil God se bestaan negeer

en op eie stoom, hoewel onbekwaam, oor eie lewe regeer.

      

In die Paradys was die mense in hul natuurlike staat naak

terwyl hulle die tuin in God’s opdrag bewerk het en bewaak.

Daardie aand, selfbewus van mekaar se skaamte geword

het hulleself daar en dan met kleding van vyeblare omgord.

 

God het uit goedheid vir die mens ʼn maat vir hom gemaak

sodat mense mekaar ondersteun en nooit alleen hoef te raak.

Die sondeval het ʼn versteurende invloed op harmonie gelaat,

van nature neig ʼn mens om God en sy naaste te haat.

 

Daagliks klaar geskep, God was tevrede met Sy handewerk,

die mens aangestel as heersers het dit bewaak en bewerk.

Daardie aand het God as straf distels en dorings bygevoeg,

voortaan sou die mens sy brood verdien van sweet en swoeg.

 

Op soek na rykdom, mag en plesier word die aarde uitgebuit,

besoedel, vermink met minagting en onverantwoordelikheid.

Alles gaan oor die opbrengs wat elkeen noú daaruit kan kry,

ongeërg daaroor of die naaste of die nageslag daaronder ly.

 

In God se koninkryk is harmonie van ewigheidsduur,

mens met God, mens met mens en mens met die natuur.

Jesus leer ons om die Vader te bid en te vra van Hom:

 “Op aarde soos in die hemel, laat U koninkryk kom!”  

 

Met diè gebed is ons nie gefokus op die eendag wat wag,

wanneer alles volmaak sal wees maar die noú van vandag.

Met diè gebed pleit ons ook deur die Heilige Gees

dat ons nie net toeskouers maar medewerkers sal wees.

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page