1995. Namiddag by die saadaanleg waar ek werk. Tipiese Hoëveldweer daardie tyd. Deur die dag snikwarm en dan laatmiddag begin die Cumuluswolke met mening opsteek. Uiteindelik bars die storm dan los en dit voel letterlik asof die aarde gaan vergaan. Dan skielik hou dit op, die son breek deur, alles is vars en dis asof dit slegs 'n droom was:
DONDERSTORM OP DIE HOëVELD
Onopmerksaam in die laatmiddaggewemel
die rysige wit cumuluswolke
afgeëts teen die Suiderhemel.
Die dreigende invalsleër
van bolwangrondstapels
begin die lugruim te annekseer.
Bedompigheid word deel
van die atmosferiese druk en
'n luggie begin luiweg te speel.
Skielik - duisternis daal
as 'n laaste massiewe wolk
voor die son inmaal.
Dit is of alles versteen,
momenteel in groot bewustheid
van die naderende reën.
Van nêrens kom die stormwind
en jaag driftig voor hom uit
alle losgoed wat hy kan vind.
Die stormvoël het ongemerk geland,
geruisloos sonder klank,
net sy eerste voetspore is sigbaar in die sand.
Vir oulaas nog maneuvreer
wolkslierte bo in die lug en dan
word groot druppels na benede getorpedoeer.
Boontoe en ondertoe word een
as die grys gordyn als toemaak
en dit ritmies begin te reën