top of page

             OPE BRIEF AAN GOD, TWEE

 

 

My Oupa aan moederskant, die een wie se doopname ek dra, is altyd deur sy kinders as “Vader” aangespreek.  Ek was ʼn klein kleutertjie toe hy nog geleef het en kan nie veel van hom onthou nie.  Ek onthou wel, later jare as sy kinders oor hom praat het hulle altyd, asof dit die natuurlikste ding op aarde was, steeds na hom as “Vader” verwys.  Ek het dit nêrens in my lewe ooit weer gehoor nie, dit was iets uitsonderliks.

 

“Vader” anders as Pa of Pappa, wat die algemene aanspreekvorm vir meeste mense is, klink net anders.  Enersyds het dit amper ʼn mistieke gevoel daaromheen, andersyds klink dit ongelooflik waardig.  Tog verloor dit nie intimiteit nie, inteendeel vir my word dit ʼn samesmelting van hoë respek en teerheid.  Dit versinnebeeld die “opkyk” na iemand met verwondering en vertroue.

 

Die afgelope tyd het een weer een van daardie mismoedige, “in die trog” tydperke van my lewe ervaar.  Alles is deurmekaar, uit ritme uit en ek word heen en weer deur die golwe geslaan.  Ten spyte van my beste pogings om nie te bekommer nie, bekommer ek my oor alles.  Ek is bekommerd oor myself, oor my kinders, oor my familie, en my vriende.  Oor wat met ons gebeur en oor wat die toekoms vir ons inhou.  Die bekommernis is nie net vrugte van my verbeelding nie maar harde realiteite wat ons almal amper daagliks in die gesig staar.  Dis nie wonder oor dinge wat dalk kan gebeur nie maar oor dinge wat reeds gebeur het en definitief sekere nagevolge gaan hê.  Ek is nie seker of laasgenoemde juis positief gaan wees nie maar dat die kans op klippe kou redelik seker is.

 

Ek het aan die begin van die jaar teen my sin pensionaris geword en in plaas van nou rustig terug te sit en die lewe te geniet, dink ek aan die langer termyn want ek wil nie ʼn las op iemand anders se skouers word nie.  Inteendeel, tot nou toe was ek veronderstel om die een met die breë skouers te wees wat andere dra.  My kinders word ook deur werkloosheid in die gesig gestaar en hoewel hulle, hul beproewing met groot dapperheid aanpak, voel ek hulle onderliiggende onsekerheid aan.  My boerderyvennoot (maar ook eintlik ʼn eie kind) stry sy eie stryd om ʼn leefbare inkomste te genereer en waar ons grootliks op die besigheidsonderneming as ʼn rugsteun staatgemaak het, boer ons nou agteruit.  Twee uitmergelde droogtes later en ons sukkel om kop bo water te hou.

 

Ek wens ek kon die Vader en die Vriend wees wat tot almal se redding kon kom, letterlik fisies.  ʼn Vet tjek uitskryf vir elkeen wat dit nodig het en sodoende die onsekerheid soos mis voor die son laat verdwyn.  Iemand waarna hulle kan opkyk, definief net in die geestelike sin. Fisies  kom ons daar en dan voor ʼn ʼn klein tegniese probleemtjie te staan.  Ek is eenvoudig net nie lank genoeg dat hulle willens en wetens na my sou moes sou moes opkyk nie  Gelukkig. deur die genade kyk my eie kinders my darem amper gelykweg in die oë maar die res troon ver bo my uit, hulle raak amper weg tussen die sterre daarbo. 

 

Gister was Dien in ʼn motorongeluk betrokke.  Genadiglik het sy heelhuids daaruit gekom maar haar karretjie is erg beskadig en nou wag die rompslomp van assuransie, regmaak of afskryf en wie wat nog; alles lê soos ʼn berg voor my.  Om alles te kroon, voor of na die botsing, het Wouter my laat weet dat die oes wat veronderstel is om ons hierdie jaar deur te dra, het vroeë ryp gekry en net daar is nog ʼn strooitjie op die kameel se rug gelaai.  Ek het weer soos Elia gevoel, wil net besembos toe om te gaan lê en doodgaan.

 

Net verlede week toe ek vroegaand oorstap na Irmarie se huis om die honde te gaan kos gee en oor te slaap, toe sien ek hom.  My geliefkooste sterrebeeld: Die Suiderkruis.  Hy is al so bekend aan my, dat my oë hom amper automaties uitsonder as hy bo in koepel sit.  Partykeer lê hy nog laag op die horison en dan, veral in die stad se helder ligte en die omliggende geboue, mis ʼn mens hom.  Hierdie keer het hy sommer vlak hier bo my gesit.  Die twee wysers, Alfa en Beta Centauri was so helder soos neonligte en net bokant hulle, daar waar hy moet wees, die dowwer en amper skuinslêende kruis saamgestel uit vyf sterre.  Soos elke keer wat ek daarna kyk, maak my kop automaties die nodige afmetings: trek ʼn loodlyn in die middel tussen die wysers en verleng dit na regs.  Verleng dan die lang been van die Suiderkruis ook na regs en daar waar die twee lyne kruis, daar presies lê Suid.  U weet dat my sin vir rigting hopeloos is, smorêns vroeg as die son opkom, weet ek darem waar  Oos is en laat middag vind ek op dieselfde manier Wes.  Die res van die dag is ek verlore.  Saans voel ek altyd op my stukke, die Suiderkruis ken ek my kop uit en as hy nie sigbaar is, is darem darem altyd Orion, wie se swaard ook  wys waar Suid lê.

 

Toe ek so opkyk na die Suiderkruis toe skiet ʼn wonderlike gedagte my te binne.  Toe U die hemel gemaak het, was dit nie sommer net so nie.  U het nie net willekeur spatsels sterre gemaak en lukraak op die hemeldoek uitgestrooi nie maar U het daardie hemel  soos ʼn skildery beplan met elke ster op sy plek. Met daardie agtergrond het u prominente beelde, elk met ʼn bepaalde doel saamgestel.  U het inderdaad dit vir Job uitgewys toe U hom gevra het of hy by was toe U Orion gemaak het.  So het U ook ander sterrebeelde gmaak, insluitend die Suiderkruis.  U het toe al geweet dat eendag vorentoe gaan een of ander verdwaalde siel dit nodig kry om rigting te vind.  Ek dink U het toe ook al spesifieke mense in gedagte gehad, iets wat nogal goed daarby aansluit dat U die mens as kroon van die skepping geskape het en dat U die die skepping onder hom gestel het.

 

 Ek kan my amper indink dat U hier onder kom staan het en opgekyk het om U handewerk te beskou. Dalk was U nie heeltemal tevrede nie en het dalk Alfa Centarius so ʼn paar ligjare links en Beta Centarius so ʼn paar ligjare regs en ʼn ietwat verder teruggegeskuif sodat hule ewe helder sou vertoon en amper regop bo mekaar op ʼn vertikale lyn sou lê.  Op daardie stadium het U uiteraard klaar die wiskunde uitgewerk en geweet wat U wou bereik.  Miskien het die kruis  ʼn bietjie te veel skuins gelê en het U die sterre wat dit vorm saam gegroepeer en die hele spul so ʼn effe geswaai en siedaar die verlengde lyne het presies bo die Suidpool gekruis.  Dawid, toe hy Psalm 8 geskryf het, het gedog hy gebruik maar net beeldspraak maar ek weet U vingers het inderdaad die sterre berei.

 

Laasnag, toe ek lê en tob oor my deurmekaar lewe was U daar, soos altyd.  U laat my toe terugdink aan daardie pragtige Suiderkruis en my gedagtes rondom U wat dinge geskep het wat ver bo ons begrip is.  Ek besef toe, U het die Suiderkruis onder andere spesiaal vir my gemaak.  U ken my kleingeloof, my twyfel en daarom het U toeka terug daardie prentjie ook vir my geskilder en daar, op ʼn prominente plek, in die hemelkoepel opgehang.  Vir baie mense mag dit ontsettend verwaand klink maar ek weet daar is geen grense wat U liefde en begrip beperk nie. Die Suiderkruis het waarskynlik in die vroeë tye van seevaart vir menige matroos die rigting aangedui, in my geval het dit ʼn geestelike kompas geword.  As ek in my gemoed verdwaal, sal die Suiderkruis my altyd herinner dat U ons op koers wil hou.  ʼn Koers van vertroue en ek sal aan die woorde van Ps 25 dink: “Leer my Heer U regte weë en wys die regte pad my aan”, maak my hart daartoe geneë om met lus daarop te gaan.”

 

Steeds was dit nie die einde van U onderrig nie en U het my gedagtes verder laat dwaal en ek het toe ook op ʼn ander insig gekom.  Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die twee rigtingwysersterre se name goedsmoeds vervang kan word met dié van “Vader” en “Heilige Gees”.  Beide wys heen na die kruis wat veral hier net na die Pase na een gedagte lei naamlik “Jesus Christus” ook bekend as die: Weg en die Waarheid.  Hierdie Goddelike drie-eenheid wys vir my, en ook vir andere, die regte pad “huistoe” aan.  Die Suidpool versinnebeeld my en andere se eindbestemming:  Vryspraak en ʼn ewige lewe nou en vir altyd. 

 

Daarom kan ons sing: “Hoe groot is U, hoe groot is U” en “I was lost, but now I’m found”.  Dankie Here: Vader, Seun en Heilige Gees vir die Suiderkruis.

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page