My 83-jarige tante (ook my Peetma) het onlangs haar tweede man aan die dood afgestaan. Na sy afsterwe het dit eers aan die lig gekom dat sy al vir geruime tyd aan Alzheimer's ly. Behalwe wat 'n mens oor tyd van die siekte tweedehands hoor, het ek persoonlik geen kennis daarvan gedra nie. Terwyl sy gewag het dat die boedel afgehandel word, het sy vir ses weke by ons aan huis gebly en hoewel die blootstelling baie kort was en sy tot 'n groot mate nog onafhanklik was, het die tragiek van die siekte tog tot 'n mindere of meerdere mate tot ons deurgedring. Omdat sy geen kinders van haar eie het nie en die familie nie in staat was self na haar om te sien nie, het ons haar in versorgingsoord vir Alzheimerlyers geplaas. Hierdie instellings doen ongelooflike goeie werk om na hierdie mense om te sien en hulle te versorg. Hier volg my waarnemings:
ALZHEIMER’s
Dié siekte kom soos ʼn dief in die nag,
ongemerk, meedoënloos kom die slagoffer in sy mag.
Met tyd begin die geheue soms agter raak,
maar eers goedsmoeds as net ouderdom afgemaak.
Vinnige verstand van weleer begin verdwyn,
vermoë om te onthou besig om stadig weg te kwyn.
Vanmelewe se herinneringe word nog opgediep maar
onthou van nou raak uiteindelik heeltemal klaar.
Die verstand het soos ʼn grammafoon van ouds geraak
wanneer die gekrapte plaat in een groef vasgehaak
op die tafel in die rondte draai maar oor en oor
glip die grammafoonnaald terug in dieselfde voor.
Gesprekvoer is oënskynlik normaal en steeds vol vuur
maar gedagteflitse is duidelik van korte duur.
Met eentonige refrein, voel soos ʼn duisend maal
word dieselfde gedagtes herhaaldelik opgehaal.
Buie van aggressie en suspisie begin toe te neem
en familie en vriende raak uiteindelik vervreem.
Progressief word die pasiënt meermale vasgevang
in ʼn eie wêreld wat êrens alleen in die eter hang.
Soos die verstand oor tyd meer en meer agteruit tree
volg die liggaam dieselfde afwaartse spiraal gedweë.
Vir diegene wat alleen agterbly, hartseer en bedruk:
Vergeet wat die persoon geword het. Onthou die tye van geluk.