top of page

Baie keer sneller iets jou om ou herinneringe op te diep.  Party keer plaas 'n mens dit op papier en daardie historiese gebeurtenis, eie aan jouself word dan 'n Memoir.  Nadat ek hierdie gedig geskryf het, het ek besef dat elke gedig eintlik 'n Memoir is en dat die somtotaal daarvan my Memoires bevat.

​

                              MEMOIRES

 

Jou eie wêreld se persoonlike biblioteek

diep in jou onderbewussyn weggesteek

duisende geïllustreerde boekies onsigbaar klein

geberg in die talle grysstofselle van die brein.

 

Die oë het elke unieke lewenstoneel afgeneem

die storie daaragter deur die geheue opgeneem

teks en prent is deeglik as ʼn eenheid geredigeer

elke storieboek iewers in die biblioteek geliasseer.

 

Party boeke gereeld gelees, onthoú vars ervaar

andere al vergeet en staan net en stof vergaar

soms word daar in die biblioteek rondgedwaal

en ou boeke word uit hulle bergplekke uitgehaal.

 

Omslag afgestof en die geel ou blaaie oopgeslaan

woorde gretig gelees om te onthou wat daar staan

die prentjie daarnaas van hoek tot kant beskou

gretig om elke aspek daarvan in detail te onthou.

 

Op dié wyse word op ver-ver paadjies teruggeloop

ou herinneringe opgediep oor baie jare opgehoop

skiélik staan gister ʼn mens helder voor die oog

met taferele afgespeel op jou eie lewensverhoog.

 

Miskien kan iemand anders uit daardie stories leer

alternatiewe lewensrigting bied; growwe foute keer

as ʼn begin om andere van jou lewensstories te vertel

moet jy die pen opneem om jou Memoires op te stel.

     

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page