Mense is 'n integrale deel van die skepping. Maar wie is ons, hoe vertoon ons teenoor ander objekte in die skepping. Ek het gaan sit en begin onderskei in welke mate 'n mens gedefinieer kan word. Daar is waarskynlik nog baie definisies wat gemaak kan word, hierdie was my poging:
WAT IS DIE MENS ?
In moederskoot aanmekaar geweef
met verstand wat kan redeneer,
wat kan onderskei tussen goed en kwaad.
Denke
wat die verste horisonne kan verken of
wat tot in die diepste duisternis delf.
Elke indiwidu met sy eie unieke DNS,
ʼn liggaam atleties, soepel en gespierd
of gestremd.
Sintuie funksioneel en skerp,
soms net gedeeltelik
of niks.
ʼn Onsterflike siel
wat terughoudend of spontaan,
vrolik, bedees , soms bedruk
woorde uiter deur sê, skree, fluister
of woordeloos praat deur net aan iemand te vat.
Woorde aandagtig luister, weeg en ontleed of
belangeloos, halfhartig met ʼn halwe oor hoor
of ignoreer deur ʼn dowe oor te draai.
Met andere kommunikeer:
geselsend, oorredend, oordonderend,
troostend, paaiend,
vraend, pleitend, smekend
of net bid.
Dit is die mens,
ANDERS
as enige ander wese wat leef.