Twyfel jy ook soms dat daar werklik genade vir jou kan wees. Dit gebeur baie met my veral as begin nadink oor hoekom ek nou juis genade moet verdien. Dit gebeur veral as jy hoor hoe God sonde haat en dat daar oordeel wag op die wat Hom misken. Deesdae kry 'n mens soveel blootstelling op televisie oor hofsake, regsgedinge en die amptenare soos regters, aanklaers en advokate begin al 'n verstaanbare begrip word. Ons is doodbang vir die regter wat ons of skuldig of onskuldig gaan bevind, afhangende van hoe goed of sleg die aanklaer en advokaat is en indien skuldig uiteindelik 'n vonnis gaan fel. In ewigheisperspektief is die uitkoms soveel belangriker en daarom is die verwagting van moontlike oordeel en vonnis soveel erger:
DIE REGTER
Die ganse menseskaar
sal eendag voor Hom staan
en verantwoord vir elke woord
gespreek, vir elke daad gedaan,
Vir ewig sal jy leef -
of in die hemel of in die hel -
wie is hierdie Regter wat
die oordeel oor elkeen sal fel?
Hy is die eersteling
uit die dode opgewek,
sit verheerlik langs God,
die Vader op Sy ereplek.
Alle mag in die hemel en
op aard behoort aan Hom,
as Regter sal Hy eendag
triomfantelik op die wolke kom!
En tog hierdie wete laat
by my glad nie enige vrees
want wanneer hulle my klagstaat
voor die regbank lees,
laat die Regter nie vonnis
maar vryspraak op my daal
want ....Hy is ook my advokaat
en het reeds al my skuld betaal.