Ons is dikwels baie krities teenoor mense wat bot is. Ons beskou as hulle as onvriendelik en stuurs. Hoe dikwels is dit maar nie net 'n vorm van selfverdediging waaragter die persoon skuil nie. Dit is baie moontlik dat so 'n persoon vroeër in sy/haar lewe seergekry het en as gevolg daarvan wantrouerig is. Gelukkig is daar 'n oplossing ook vir diegene:
​
DEURBRAAK
Ek bou mure rondom my innerlike op
en van binne hou ek die lewe krities dop.
Hierdie skanse hou God en mense uit
maar in my hart is ek alleen opgesluit.
Ek het gewoonlik 'n masker van sinisme op
en soms kan ek selfs mense met 'n nargesig fop.
Diep in my hart is ek soos 'n eensame kind
wat smag om warme liefde te vind.
Na buite word mense gebluf deur die harde beeld
maar in my gemoed is ek stukkend en verdeeld.
Van binne skree daar 'n wanhoopskreet:
"My God, waarom het U van my vergeet?"
Die Heilige Gees kom maak die gebrokenheid reg
en die graniet om my hart brokkel weg .
Ek is vry! Ek het ware liefde gevind,
want deur Jesus se bloed is ek aan God verbind.