God verklaar in Jesaja dat Hy jou by die naam ken. Met biljoene mense op die aarde, mense van verskillende stand en status, klink dit vergesog dat Hy enigsins aan jou as 'n eenvoudige individu in die omvattende sosiale struktuur wêreldwyd kan dink, wat nog aandag gee. Tog is dit die versekering. Ongeag wie jy is, waar jy vandaan kom, wie jy ken of nie ken nie, jou belangrikheid is dit vir God asof jy die enigste mens is wat bestaan en jy is die heeltyd in Sy gedagtes en oog - ongelooflik:
GOD - ONVERKLAARBAAR
Vanaf Adam en Eva, in die begin,
met die mensdom se ontstaan
het mensegetalle oor die generasies so opgehoop
dat die somtotaal nou al biljoene beloop.
In hierdie mensegeheel het elke geslag
sy kwota edeles, wyses en helde opgelewer.
Hierdie persone, hoog geag, word deur almal onthou
en selfs hulle getalle het al aansienlik opgebou.
Die herinnering aan die gewone sterfeling
is maar kortstondig en beperk.
Hy word onthou deur 'n groepie familie en vriende na aan hom
maar in die groot geheel bly hy onbekend en daarom:
Dink ek aan myself as 'n enkele stippeltjie stof
wat in God se heerlike glanslig totaal verdof -
uitgelese mense behoort volgens my Sy guns te wen
maar dit is haas ondenkbaar dat God my persoonlik kan ken.
Die Heilige Woord leer ons egter die Here aanskou nie
die mensdom as 'n gesigslose geheel
maar Hy ken, Hy sien, Hy hoor en bemoei Hom
met elke mens individueel.
God sê: "Ek het jou by die naam geroep,
jy behoort aan my "
en daarom weet ek verseker: Op Golgota
het Jesus vir elke sonde van my persoonlik gely.
Dat die verhewe God soveel bemoeienis met my,
'n enkeling maak,
sal altyd 'n gedagte bly wat my ten diepste raak.
Nie net vul dit my met bewondering
maar ook verslaentheid
want God se liefde is veel groter en omvangryk
as wat my verstand ooit kan begryp.