Tyd is 'n interessante konsep. Dis 'n element wat ons lewens in totaliteit oorheers en tog kan 'n mens dit nie vaspen nie. Enersyds is tyd verskriklik goed afgebaken as 'n mens volgens 'n horlosie of 'n almanak werk maar andersyds is tyd relatief tydloos. Wat is 'n kort tydjie of 'n lang tyd nou werklik? In die konteks van ewigheid is tyd 'n enorme uitdaging want as mens is ons geneig om liniêr: gister, vandag, môre daaraan te dink en dan word my kop plat. So ek het anders daaroor probeer dink:
TYD
Die aarde tollende om sy eie as, skuinsgehang,
in 'n elliptiese baan in die krag van die son vasgevang.
Om die aarde om en om gaan die maan
vasgetrek deur swaartekrag in 'n vasgestelde baan.
In die gang van draai en swaai
word oppervlaktes of in donker gehul of in lig gebaai
en deur die grootte van die ellipsstraal
word die temperature van lande en seë bepaal.
Die momentum van hierdie ritmiese krag
word vergestalt deur oseane wat styg en daal,
in die voorkoms van elke dag en nag.
Die jaargety word tussen die seisoene van
somer, winter, lente en herfs gereël
en die maan word deur ligkaatsing in kwartiere verdeel.
Die effek van hierdie grootste skeppingsdaad van God
strek wyd -
Vanaf die begin van niks
totdat Hy hierdie bestel eendag voltooi
is dit die ratwerk van alle tyd.
Milleniums het gekom en verby gegaan,
die eeue rol om en dit voel asof elke jaar
uit twaalf vlietende maande bestaan.
Dae word in 'n oogwenk op 'n kalender omgeblaai
en ure en minute word meedoënloos afgetel
deur die pendulum se ritmiese swaai.
Oomblik vir oomblik word die sekondes afgetik
en word die hede na die verlede weggeruk.
"Daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan"
sinies word saam met die Prediker gevra:
Is daar sin in die tydelikheid van 'n mens se bestaan?
Fatalisties gesproke is dit waarskynlik waar
as jy lewenssin net uit die sigbare en konkrete ervaar
maar as jy die tyd benut
om die Skepper van alle tyd te onthou,
sal jy jou lewenssin op die toekoms by Hom,
in tydlose ewigheid bou.