April 2020. Die dissipels het Jesus gevra om hulle te leer bid en waarskynlik nie sonder rede nie. Hulle was gewoond dat die Priesters namens hulle bid. Ons verval ook maklik in die gewoonte om rities te bid dalk om seker te maak dat ons God nie affronteer nie. Jesus wou bo en behalwe die bekende Onse Vader gebed al sy disspels (ons inkluis) leer dat ons vrymoedig na Hom kan nader. Gebed behoort nie net tot formele geleenthede of by spesifieke plekke nie maar behoort 'n deurlopende gesprek met God te wees waarin ons, ons afhanklikheid en ons gerigtheid op Hom te erken.
DAAGLIKSE GEBEDE
Dis skemermôre, begin van ʼn nuwe dag
ek besluit ek plaas myself onder U gesag
die eie ek word op die agtergrond geskuif
my skouer onder my eie kruislas ingeskuif
ek rig my oog op my Leidsman daar voor
met voornemens om net te volg in Sy spoor
maar dikwels onbeplan begin my oë dwaal
Heer ek bely dat toegewydheid dikwels faal
Deur die dag met vele dinge gekonfronteer
wat onwillekeurig gedagtes rig op die Heer
midde die sleurbestaan sien jy ietsie raak
wat herinner dis deur die Skepper gemaak
of merk die lewe se sware swoeg en sweet
en bid asseblief moenie die armes vergeet
van nêrens ontpop ʼn krisis voor jou deur
Here smekend dra my asseblief hier deur.
Aand, nog ʼn dag se uurglas het uitgeloop
wonder hoe het ek vandag tyd uitgekoop
oor gedagtes en dade word gereflekteer
die goeies van die slegtes uitgesorteer
dankbaar waar ek U Koninkryk kon bou
aktief my Koning se eer in stand kon hou
helaas ook slaggate onsuksesvol vermy
Heer teenoor U wil ek my onvermoë bely.
Deurlopend sewe weke, vier-en -twintig uur
word gebede sporadies die eter ingestuur
ʼn mengelmoes van lof, dank, smeek en vra
aan of die Vader of die Seun of Gees opgedra
wanneer aan God as opregte offer aangebied
belowe Hy om Sy wil op aarde te laat geskied
Sy arm nie te kort, geen doofheid in Sy oor
weet verseker dat Hy graag alle gebede hoor