top of page

Johan Smit lewer 'n skitterende preek in 2018 oor Volharding.  Hy verwys onder andere na Jeremia wat letterlik sy geboortedag vervloek het.

Hy verwys ook na Josef en Jesus self wat se lewens deurspek was met swaarkry maar ten spyte daarvan in geloof bly volhard het.  Hy verwys ook na Pualus wat skryf dat swaarkry kweek geloof. Geloof kweek volharding  en volharding kweek hoop. Dit was 'n boodskap wat vir my persoonlik baie beteken het, in 'n tyd van my lewe wat deur krisisse gekenmerk was.  Hy gebruik 'n wedloop as voorbeeld van volharding.  'n Atleet sukkel aanvanklik in die begin maar sodra die tweede asem deurbreek word die wedren gemakliker en word dit selfs geniet.  Sy interpretasie is dat die Heilige Gees die tweede asem vir die gelowige word wat die individu vertroos en versterk om swaarkry in die  oog te kyk en gelowig daardeur te volhard. 

 

                               WEDLOOP 

 

ʼn Wedloop het ʼn begin

ʼn einde en swaarkry tussen-in.

Ten spyte van ʼn strawwe oefenprogram,

aanvanklik is die spiere stram

longe brand met elke asemteug-

tou opgooi word sterk oorweeg.

Om volhardend in die wedloop te bly,

moet die atleet ʼn tweede asem kry

 

Die wedloop van die lewe

laat menige mense bewe

met angs en bekommernis

vir elke nuwe môre se hindernis.

Wil eerder onder ʼn besembos lê

as om die lewe stryd aan te sê,

Eerder beter om nou dood te gaan

as langer in die spervuur staan.

 

As ek op moedverloorvlakte dwaal

kan ek bemoediging wyd gaan haal.

Josef en Jeremia onder in ʼn put,

Paulus en Josef in tronke gesit.

Jesus se toekoms was ʼn kruis....

as offer vir die mensdom verguis.

God het elkeen se roeping bepaal

net volharding laat die wenstreep haal.

 

Gaan jy onder teëspoed gebuk,

besluit gelowig om deur te druk.

Daarvoor moet jy in opregtheid glo

dat jou hulp kom net van Bo.

As jy op die Goeie Gewer vertrou,

sal die lewe altyd net hoop inhou.

Hou altyd jou oog op Jesus ons Hoof,

die begin en die voleinder van ons geloof.

 

Hy verstaan die leed wat ons verduur

daarom die Heilige Gees gestuur.

Nie net woon Hy in ons hart….

Hy deel heelhartig in ons smart.

Laat die lewe ons gekneus en broos,

is Hy die een wat optel en troos.

Met Hom altyd getrou aan my sy

het ek ʼn tweede Asem gekry.

 

 

 

 

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page