Die vermoë om te kan sien is 'n ongelooflike stuk genade. Nog meer as 'n mens kleure in die volle spektrum waar kan neem. Besef ons werklik wat iemand mis wat nie ten volle kan sien nie. 'n Interessante aspek van kleur is natuurlik dat dit slegs in die teenwoordigheid van lig waargeneem kan word. In die donkerte kan 'n mens nog beelde en vorm onderskei maar die kleur is weg. Soos die omgewing helderder word, word die kleur sigbaar. 'n Ander aspek is natuurlik of verskillende mense kleur op dieselfde wyse sien?
KLEUR
'n Bloedswart blom,
kanariegrysgesproet,
afgeëts teen die kontras
van 'n bottelwit veld.
Absurd maar waar -
was die Skepping
net in skakerings
van wit en swart.
'n Titseltjie blou
spatsels geel,
reënboogskakerings,
die warmte van rooi
verfraai, verhelder, versag.
Die Skepper se kwas
het die wêreld getooi
in 'n kaleidoskoop van kleur.