Sondag 20 September 2015 luister ek na 'n diens op RSG deur Dr Johan Pienaar. Die skrifgedeelte is uit Johannes 11. Dit bly maar net ongelooflik wat se geheimenisse in die Bybel opgesluit is. Die kern van die boodskap was oor Martha se sterk geloof maar net soos sy is ons geloof dikwels net op die verlede en die toekoms gerig. Ons is minder oortuig dat Jesus bewus is van ons onmiddellike omstandighede en nie daaraan aandag gee nie. Die treffende boodskap is opgesom in:
VERTROUE: GISTER, MÔRE EN….. VANDAG
Martha, vol van smart bieg verwytend uit haar hart:
“Here, was U maar eerder hier het ons Lasarus se gesondheid gevier.”
Martha, vol geloof verstaan dat Lasarus eendag op sal staan
en bely die hoop waarop sy steun: “U’s die Christus, God se Seun.”
Maar, Martha nugter oor die hede se geloof is vir môre en vir die verlede.
Wanneer Jesus beveel: “Rol die klip weg.” vermaan sy onthuts: “Here, hy ruik al sleg.”
Ek glo Jesus het gewandel op die see, met bykans niks het Hy ʼn skare kos gegee.
Hy het siektes oombliklik laat verdwyn en vir blindes het hy lig laat skyn.
Ek glo dat my lewe verby sal gaan maar dat ek weer eendag op sal staan.
Hy het al my sondes vergewe, daarom is ek bestem by Hom vir ʼn ewige lewe.
Maar, ek glo moeilik vir vandag, vir al die klippe wat padlangs vir my wag.
Soos Martha aanvaar ek met gelatenheid dat gedane sake is ʼn onveranderlikheid.
Hy is Alfa en Omega God maar die “en” beteken eintlik “tot.”
Ons kan vertrou in Hom met alle krag; vir gister, vir môre EN …. vandag!