top of page

'n Vriendin van my, nou woonagtig in Australie, stuur vir my 'n foto van die beeld in Fremantle maar gee aanvanklik nie die simboliek weer nie.  Op 'n later stadium vertel sy my die agtergrond dat dit die immigrante vergestalt wat daar die land binnegekom het.  Die vreemde voorkoms van die beeld simboliseer 'n stuk van die mense wat hulle in hulle vaderlande agtergelaat het.  Dis 'n besondere beeld en as 'n mens dit in diepte bestudeer, kan jy soveel meer daarin sien

 

                FREMANTLE SE STANDBEELD

 

By Fremantle loop ʼn immigrant aan wal,

sy skouers effe geboë maar die vuis gebal.

Die verlede is agtergelaat, sy rug seewaarts gekeer

maar hy kyk op, vorentoe, hy gaan weer probeer.

Die gesig is ʼn studie van hartseer en pyn;

oë moeg, mond afgerem en vel met plooie gelyn.

 

Swaarkry het wel ʼn leemte in sy wese gemaak

maar sy verstand en hart bly onaangeraak.

ʼn Groot stuk van hom het tuis agtergebly,

hy’s platgeslaan maar nie onder gekry.

Sy regterarm is weg maar die linker een is sterk,

die mou opgerol, hy is reg vir werk.

 

Hy begin hier ʼn nuwe hoofstuk in sy lewe skryf,

met net ʼn kleinerige tas en die klere aan sy lyf.

Hy sal sy krag en denke aan sy nuwe land wy

en sal dit ook uiteindelik toegang tot sy hart verkry.

Met tyd sal die verlange na die verlede begin kwyn

maar die soete herinneringe sal nooit verdwyn.

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page