top of page
Die lewe is nie altyd maklik nie, maar Jesus het 'n staande uitnodiging aan Sy volgelinge. Wanneer jy lewensmoeg is en voel dat jy die einde van die pad bereik het, onthou dan net jy is:
UITGENOOI
Wanneer my gees sukkelend
onder sondelas gestrek
stroomop strompel
die swaarkryjuk sondermeer
my skouers stukkend skaaf
en my lewensvreugde steel
ek sweet en swoeg en snak
na suurstof in my vlees
sug na sonder sorge en seer
soekend na steun en troos
my siel dorstig smag
om soete waters te smaak
sê Jesus sussend
in Sy strelende stem
Almal sat en oorbelas
kom sit hier naas
styf aan my sy
en RUS.
bottom of page