Die lewe vorm en skaaf ons. In wese is ons niks maar genadiglik is daar Iemand wat Hom oor ons ontferm en van niks iets maak. Die Here het van eenvoudige vissermanne die fondament van sy Kerk gemaak. So is daar talle mense wat kan getuig dat hulle uit 'n eenvoudige agtergrond gekom het en in suksesvolle individue ontwikkel het. Op geestelike vlak is dit net so belangrik. Van nature is ons God vyandiggesind maar Hy tel ons op en verander ons ten goede.
HERSKEP
Vergete stuk hout, hard gegrein,
kwistig gekwas, termietgevreet,
skurf van bas.
Nuttig net om te brand
tot gryswit as.
Die Beeldhouer soek en vind die weggooihout.
Verby die ruheid en verweerdheid
van die klipharde stomp sien Hy reeds
Sy beeldhouwerk volmaak uitgekerf.
Bas brokkel weg as die saaglem
rofweg vorm gee.
Beitelhoue byt en splinters spat
terwyl die grein teen die geskaaf
en geskuur weerstand bied.
Die Beeldhouer geduldig, beitel geleidelik weg
die splinters en kwas wat die beeld ontsier.
Hy poleer en poets tot die grein versag
en die hout, eens dof en dood
word 'n sieraad van glansend prag.
.