God se verhouding met my as 'n individu bly ongelooflik kosbaar. By wese van spreke sê ons altyd ons lewens is in God se hand. As 'n mens meer fisies daarna kyk en ontleed hoe dit vergelyk op 'n menslike vlak dan kan 'n mens dit as volg sien:
HAND IN HAND
My hand in God se hand
is nie in 'n dominerende greep
wat stoot en trek
en van my 'n marionet maak
wat net willoos knik en strek.
En tog ......
my hand in God se hand
is nie so lossies en belangeloos vasgehou
dat dit my ankerloos laat sodat as ek
struikel of val dit vir my doodsgevaar inhou.
Eerder is ......
my hand in God se hand
soos 'n kleuter wat aan pa se vinger hang,
vry om te los en te verken
maar altyd 'n veilige hawe byderhand
as hy begin onseker voel of bang.
Ook is .....
my hand in God se hand
soos die vingers van jong minnaars wat
vroetel , vleg en inmekaar verstring,
wat koesterend tas en streel en
aan mekaar innerlike voldoening bring.
Nog meer is .....
my hand in God se hand
soos die hande van 'n ou getroude paar
wat knus passend palm teen palm rus en
meer sê as wat daar woorde is.
.