top of page

Ek het die voorreg gehad om dikwels te vlieg en die ander blik op wolke,  van bo of langs hulle het nuwe insigte gebring.  Dis ongelooflik as jy langs 'n reuse cumuluswolk vlieg en besef hoe massief dit is. 'n Ongelooflike gesig is wanneer dit binne so 'n wolk weerlig, dis soos 'n reuse gloeilamp wat flits en jy weet sommer daar binne kook dit.   Vlieg jy bo die wolke, strek dit soos' sneeulandskap uit en 'n mens voel jy wil graag daarop stap of lê, dit moet net eenvoudig veerlig wees.  Dis die toonbeeld van rustigheid en vrede.

 

                 LEWENSOMSTANDIGHEDE

 

Lewensomstandighede is soos 'n donderwolk.

Van onder 'n dreigende donker massa wat kolk

en swel, baarmoeder van die bliksemblits

wat skrikwekkend, geniepsig heen en weer flits.

 

Van bo aanskou 'n landskap van wit kapok

of soos die spierwit satyn van 'n bruid se rok.

Daar bo is daar niks wat die helder sonlig kan keer

soos die wolk self wat die lig van die aarde weer.

 

So, dieselfde wolk kan totaal verskillend lyk,

dit hang net af of jy van bo of van onder kyk.

Net so, deur God se genade kan jy keuses maak

van hoe slegte omstandighede jou lewe aanraak.

 

Wil jy 'n wildsbokkie wees wat beangs en benoud

skuiling soek tussen die bome in 'n woud

en ineengetrek oploer na die dreigende, donker gevaar.

 

Of is jy 'n arend, vlerke uitgestrek, vry in vlug

wat ver bo die wolk uitstyg in die lug

en in die helder Lig - God se teenwoordigheid ervaar.

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page