top of page
Jesus was stil aan die kruis met die uitsondering van die sewe kere wat Hy Sy bekende kruiswoorde geuiter het en wat in verskeie van die Evangelies opgeskryf is. Ek het dit as volg opgesom:
​
KRUISWOORDE
Die wereld se lig aan die kruis in pyn,
besig met sy liefdesplig om God en die mens te versoen.
Bid Hy vir Jood en Romein:
“Vader vergeef hulle almal, want hulle weet nie wat hulle doen.“
Die misdadiger langs Hom spot:
“red jouself,“ saam met die skare alom,
“Jy is mos die Seun van God.“
Maar pleitend kom vanaf die ander kruis:
“dink aan my as U in U koninkryk kom “
En die antwoord: “Dit verseker ek jou,
vandag sal jy by my wees in die paradys"
Alleen in Sy hellesmart,
verloën, verwerp, verlaat,
tog steeds met ‘n liefdeshart
besorg oor beste vriend en ma.
Ondersteunend aan mekaar oorgelaat:
“Moeder, daar is U seun en seun daar is jou ma."
Die geestelike stryd woed fel
in die mens aan die kruis vasgenael
want onskuldig ervaar Hy die hel
vir ander se sonde wat God so haat.
In smart ter helle neergedaal
roep Hy beangs omhoog:
“My God, My God, waarom het U My verlaat!"
Ook Sy liggaam word blootgestel
aan lyding, aan pyn aan seer,
in Sy volle ervaring van die hel.
Met Sy kop willoos op Sy bors
en Sy liggaamskragte uitgeteer,
Kom oor sy lippe prewelend: “Ek het dors.“
Sterwende aan die vloekhoutpaal
het vir baie net nog ‘n mens ophou bestaan,
min wetende God het vir die mensdom die losprys betaal.
Vandag kan gelowiges jubelend sing
omdat hulle nou die volle betekenis verstaan
van Sy luide , weergalmende kreet:
“Dit is volbring!“
“Vader in U hande gee Ek My Gees oor, “
net voordat Hy Sy laaste asem sug,
is Sy laaste woorde op Golgata gehoor.
Sy Woord het egter nooit ophou bestaan
en keer ook nooit leeg terug.
Die Woord is lewend
want Jesus het opgestaan.
bottom of page