Ek was gevra om Seremoniemeester by 'n familielid se troue te wees. Om so 'n bietjie af te wyk van een van die tradisionele pligte om die gaste met grappe te vermaak, het ek die humor in versvorm probeer vasvang. Hier is die eindproduk:
RIBBEBEEN ( SY PERSPEKTIEF )
Adam word wakker uit ʼn diepe slaap
hy strek, hy rek, hy gaap
en word skielik met onsteltenis bewus
dat daar ‘n leemte in sy borskas is.
Terwyl hy vervaard voel om seker te maak,
sien hy meteens die mooiste ding raak
en daar en dan begin hy te verstaan
dit is sy ribbebeen wat daar voor hom staan.
Met bewondering staar hy na haar,
neem elke kuiltjie, elke kurwe waar.
ʼn Diepe tevredenheid vloei deur hom :
so ʼn mooi ding kan net uit ʼn man uit kom.
Hy drink die detail in van haar skone gelaat,
hy swymel en dan begin sy te praat, en te praat…
‘n Nare besef begin hom geleidelik binnedring ….
‘n ribbebeen is eintlik ‘n raserige ding !
RIBBEBEEN ( HAAR PERSPEKTIEF )
Eva staan naas die slapende man,
eers rangskik sy haar hare en dan
begin sy hom van kop tot toon bekyk
en met haar eie liggaam te vergelyk.
Alles basies op presies dieselfde patroon,
sy is sag terwyl hy meer gespierd vertoon.
Daar is ook ander verskille wat sy gewaar,
soos ietsies hier wat kort en ʼn ekstra ietsie daar.
Terwyl sy hieruit sin probeer maak,
begin hy roer en hy ontwaak.
Hy staar haar met bewondering aan
en dan begin hy regop te staan.
Sy bemerk ʼn vreemde glinstering in sy oog
en sy asemhaling begin te verhoog.
Benoud dink sy: dit hou niks goed in vir my,
ek beter blitsvinnig ʼn hoofpyn kry.
.