Word jy in 'n gewone middelklas omgewing groot, is dit jou verwysingsraamwerk na baie fasette in die lewe. Jy is nie werklik bewus van verskriklike rykdom nie maar ook nie erge armoede nie. Sonder om te veralgemeen kan 'n mens voortborduur op hierdie trant en nog baie ander fasette uitlig. Ek wil fokus op baie mense uit hierdie agtergrond se begrip van sonde. Dis eintlik interessant dat as jy mense direk konfronteer om spesifieke sondes te identifiseer dat dit blyk baie moeilik te wees. Ons jok maar lieg nie, ons verdraai die waarheid so bietjie maar ons skinder nie, ons gaps goeters maar ons steel nie, ons is soms so 'n bietjie stout maar pleeg nie owerspel nie en les bes ons raak soms verskriklik die donder in maar ons moor nie. Die erge sondes kom by diewe, verkragters en moordenaars voor maar hulle is nie van ons buurt nie. Dis ongelukkig nie God se siening oor sonde nie en daarom het almal verlossing nodig:
SONDEBEWUSTHEID
"En vergeef ons sonde " sluit ons gewoonlik ons gebed,
so ingeval ons dalk iewers 'n reël of wet nie nagekom het
maar as ek my oortredings iedereen by name moet noem
klink dit maar asof ek bitter min sonde doen.
Ek ly 'n basies sosiaal aanvaarbare lewe
met geen skuldkomplekse wat my gemoed begewe
en die sondetjies wat ek doen, is eintlik minimaal,
na regte behoort ek maklik die hemel te haal.
Hoerery, diefstal , moord of Godloënaar,
van sulke erge sondes het ek gelukkig my siel bewaar.
Diegene skuldig daaraan, is mense wat ernstig behoort te pleit
dat Jesus hulle begenadig en by Sy verlossing insluit.
Jou dwaas, dit is nie net die daad wat sonde beseël,
'n blote gedagte laat jou reeds met die duiwel heul.
Sonde is nie net teenwoordig by mense van laer klas -
wat van die doodsbeendere weggesteek in eie kas?
God haat alle sonde - hetsy groot, hetsy klein,
Sy geregtigheid eis alle hemelinge volkome rein.
Voldoening hieraan onmoontlik vir elke sondaar gewis -
Tog haalbaar, buite jouself, deur Jesus wat Die Christus is.