top of page

2018.  Ons Omgeegroep behandel Jakobus 5 wat oa 'n waarskuwing aan "Rykaards" inhou.  Wanneer is jy ryk en wanneer is jy arm?  Arm en ryk is relatiewe begrippe - ons besef goed as iemand ryker as onsself is maar selde besef wanneer iemand armer is.  Arm en ryk is ook nie net tot fisiese besittings beperk  ie maar kan van toepassing op gesondheid,  verstand, ens gemaak word   

              ANTITESE ARM EN RYK

 

Armoede en rykdom gepolariseerd uiteengeset

oor diegene wat nie het nie en die wat baie het

soos werkloses wat meestal koud en honger kry

en die welgesteldes wat weelderig leef en bly

arm en ryk nie net tot fisiese besittings beperk

alle fasette van daagliks leef word daarby betrek.

 

Krap daagliks vir kos tussen rommel met die hand

geniet gereeld buffet of a la carte in ʼn restaurant

maaltye word hoofsaaklik uit stapelvoedsel berei

gesonde dieet direk vanaf die winkelrakke verkry

karige etes, stadig gekou, bietjies bietjies afgesluk

eksotiese disse gedetailleerd op spyskaarte gedruk.

 

Partykeer ʼn paar koperstukkies in ʼn gebakte hand

een van vele kredietkaart wys soos ʼn towerwand

ʼn werkie hier, ʼn werkie daar bring ʼn paar sente in

salaris gereeld gedeponeer op persoonlike rekening

met stokvel dan en wan ʼn bonusbetaling realiseer

gereelde inkomste uit aandeelbeleggings genereer.

 

Geslaap onder koerantpapier op ʼn kartonmatras

satynsag lakens en wolkomberse uit die linnekas

harde sement of yskoue vloer waar die lêplek is

hemelbed en diep matras waar die lyf lekker rus

ongemak forseer die lyf in fetusposisie op te krul

rustig slaap en onderbewussyn met drome gevul.

 

Vroegoggend ʼn vel wat net vuilheid en koue voel

ontspanne met louwarm water wat lyflekker spoel

sweet stink salpeterskerp uit die omgewing terug

neuse gevul met parfuum subtiel gedra op die lug

reuk van sunlightseep en rook verklap waar jy bly

begunstig as jy ʼn spa besoek en lyfmasserings kry. 

 

Toiingrige hemp, verslete broek skurwe voete kaal

bypassende kledingstukke uit die klerekas gehaal

tweedehandse klere nie meer deur eienaars gedra

status wat in die mode handelsmerk en etikette vra

paar kledingstukke in eie besit  verslete en gebleik

klere en skoene genoeg om altyd op die beste te lyk.                    

 

Stegies of onder brug word die plek waar jy plak

ʼn woning enige iets klein of groot maar onderdak

dalk net ʼn sinkpondok op posseëlgrootte perseel

huurhuis tot landgoed met ʼn imponerende kasteel

blyplek maar nooit ʼn plekkie wat jy jou eie noem

gelukkiges wat op meer as een woning kan roem.

 

In wind en weer op ʼn stowwerige sypaadjie loop

gefrustreerd in ʼn voertuig in verkeer vasgeknoop

volgeprop in ʼn taxi skouer met insittendes skuur

alleen in ʼn klimaatbeheerde sedan agter die stuur

die hele lewe lank net op apostelperde aangewys

wêreldwyd per pad en spoor, ter see en lug gereis

 

Ervaar as horende doof, siende blind, pratend stom

ongeskool geen geleerdheid wat van kindsbeen kom

beskou as onbekwaam, onbevoeg, dom soos ʼn klip

of belese, berese, ervare gereken en vlug van begrip

ongeletterd werkersklas miskien blouboordjiebrigade

deel van senior bestuur en sitting op verskeie rade.

 

Selde sonder swaarkrypyne en skete, fisiek gewond  

fiks, gespierd en in die algemeen liggaamlik gesond

afhanklik, sintuiglik gestrem of verstandelik vertraag,

skerpsinnig, geniale bate wat die gemeenskap behaag

emosioneel onstabiel, dissipelskap in die dwelmhel

formidabele figuur, leier, gesagspersoon, ʼn rolmodel.

 

Werklike kwessie nie dié van materieel arm of ryk

maar hoe die geestelike rykdom van enige mens lyk

brandarm en ingesinslyks ook arm in gelowig wees

iemand kan superryk wees maar tog nederig van gees

ontbreek aan wêreldsgoed maar standvastig in geloof

skatryk in besittings maar vir genade horende doof.

 

Onvergenoegd met te min, selfvoldaan met te veel

negatiwiteit soms deur beide armes en rykes gedeel

die armes murmureer, die rykes op soek na nog meer

God word blameer of die rug word op Hom gekeer

helaas aardse skatte word deur mot en roes verniel

skatte in die hemel het ewigheidswaarde vir die siel.

 

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page