15 Desember 2018. Ek en Dina vier ons 45e Huweliksherdenking. Soos enige ander egpaar het ons as twee individue, elk met sy eie besondere persoonlikheid ons lewensreis saam voortgesit. Oor die jare dikwels kop gestamp maar ook oneindige sakke sout saam ge-eet.
Gelukkig was die Here altyd saam met ons op pad en waar ons waarskynlik op ons eie sou gefaal het, het Hy ons telkemale in alles ondersteun en ons saam deur die laagte- maar ook hoogtepunte van ons lewe saam geneem. Oor die jare het ons die klein jakkalsies wat maar altyd pla, beter leer hanteer en daar het definitief 'n groter kalmte en aanvaarding in ons lewens gekom. Al die eer aan God Drie-Enig!
HUWELIKSHERDENKING
Watermassas tuimel siedend oor ʼn berg se hang
onder is twee ruwe klippe in ʼn rotsskeur vasgevang
die krag van die water laat hulle rondomtalie spin
teen mekaar skuur terselfdertyd ook die rotswand in
die klippe word glad en gerond met verloop van tyd
die rotsholte waarin hulle rondtol dieper en meer wyd
nie net word die interne grein van die klippe ontbloot
hul gesamentelike impak op hulle omgewing is groot
die klippe lankal reeds weggeslyt en in niet vergaan
die rotsholte sal steeds as herinnering aanhou bestaan.
Desember negentien drie en sewentig en ons sê ja
belowe dat ons mekaar altyd deur dik en dun sal dra
as Bybelvers om ons koersvas op die regte pad te hou
bouers swoeg vergeefs as die Heer self nie die woning bou
ons het die vreugde en verdriet van huwelik voluit ervaar
gelukkig het die Bouer ons huis van ineenstorting bewaar
ons het groot genade en seën in die Here se oë ge
na vyf en veertig jare steeds gelukkig in die eg verbind
wel soms woes, meermale teer mekaar gevorm en gebou
maar as egpaar ʼn impak gemaak wat vele lank sal onthou.