Jesus is saam met Sy dissipels in 'n boot op die see. 'n Storm steek op, die wind waai stormsterk, die golwe is woes en die dissipels roei dat dit klap. Dit lyk egter of hulle die stryd gaan verloor en die boot gaan sink. Jesus slaap rustig. Hulle maak hom wakker en is beangs en ontsteld want Jesus is oeënskynlik ongeërg en verstaan klaarblyklik nie die dringendheid van die situasie nie. Klink dit nie bekend nie. Ek was al meermale in soortgelyke situasies, dan bid ek dat ek klap en tog kry ek baie keer die idee dat God glad nie luister nie en ek is elke keer oortuig daarvan, nou is dit klaarpraat. En dan sommer so, raak die storm stil en see rustig asof daar nooit sprake van 'n storm was nie. Hoekom, omdat die Stuurman volkome in beheer is, oor die boot EN die see, die wind en die golwe.
​
KALMTE
Op die vaarwaters van die lewe se oseaan
is ek nie alleen in my bootjie nie want Jesus is saam.
Ons is op pad van duskant na oorkant die graf,
van moeisame roei tot waar ewige rustigheid wag.
Dikwels dreig onheilsgolwe om my bootjie te verswelg
en as dit dan lyk asof Jesus rustig slaap voel ek gebelg
en soos die dissipels weleer sal verwyt in my hart ontstaan:
"Here, gee U dan nie om dat ek dalk in die storm sal vergaan? "
Keer op keer aanskou ek in diepe verwondering
hoe Sy stem die golwe en wind tot bedaring bring
en elke keer voel ek skuldig en skaam oor my kleingeloof
omdat ek vergeet het dat alles staan onder die gesag van ons Hoof.
"Here laat my geloof in dié wete immer vas bly staan -
in my lewensbootjie is ek nooit alleen, U is altyd saam
en wanneer die golwe dreig om in my bootjie in te slaan
sal ek opkyk en U in beheer van die roer sien staan. "