Ekself is nie 'n "Mountainbiker" nie maar my oudste dogter is die eienares van die TransCape wedren war jaarliks tussen Knysna en Franschoek plaasvind. Dis 'n sewedag geleentheid wat groot eise aan die deelnemers stel. Pa, in sy hoedanigheid as 'n werknemer is op die wyse blootgestel aan die soet en suur van bergfietsery (my vertaling van mountain biking). So, uit die visuele waarneming van andere wat fisiek aan bergfietsery deelneem, het ek my afleidings gemaak:
BERGFIETSERY
Panorama, fiksheid en fietsery
is waarvoor die ryer voorberei
as mens op die ysterperd klim
om berg en bos en veld te oorwin.
Spiere saamgebondel in elke been
is die kragbron waarop die mens steun,
daarsonder is die fiets sonder fut;
die energie word uit die lyf geput.
Pedale op en af, die wiele draai,
die ketting knars as dit oor ratte swaai;
die rubber tref die pad met harde plof
oor klip, deur modder, deur water en deur stof.
Die roete beur teen steiltes uit,
afdraandes laat die wind om ore fluit.
Deur die dag word alle klimaat ervaar,
soms is die tog maklik, meesal swaar.
Met net ʼn enkelspoor wat vooruit strek,
moet die bene ritmies aanhou werk
terwyl die voorwiel versigtig vleg
om hindernisse besaai op die smalle weg.
Sweet, spiere pyn en hygend asemhaal
en tog keer die ryer terug menig maal
want daar weg van die stadsgewoel
laat jou weer een met die skepping voel.