Kersfees is veronderstel om 'n spesiale tyd te wees. Dis egter al so gekommersialiseer dat die geestelike aspek daarvan so maklik verlore gaan.
KERSFEES
Dis nou funksies hou en binnekort gaan die skole sluit ,
na ‘n jaar is ons moeg en mat en ons blus is uit
maar genadiglik lê die vakansieseisoen voor
en ons gaan “ Jingle Bells “ tot vervelens toe hoor.
Soos elke jaar hierdie tyd het nog ‘n Kersfees aangebreek
en in die kerke word kerse voor by die kansel aangesteek .
By die huis word die kersboom en versierings uitgepak
en kerskaartjies word staangemaak op die kaggelrak .
Klein kindertjies is die enigste wie se ogies blink
want Kersvader en persentjies is al waaraan hulle dink.
Volwassenes se enigste merkbare opgewondenheid lê
in die Kerssangdiens wat die gemeente binnekort gaan hê.
Nou ‘n bietjie vergesog , die oorlewering van die hemelse engelekoor
deur die herders in die weiveld buite Betlehem aangehoor
en ook vir hoeveel keer al vertel en vertoon , afgestomp herhaal ,
die sentimentele “ die baba in die krip “ sprokiesverhaal.
Oukersaand word die geskenkies aan mekaar gegee
en Kersoggend word ‘n vroeë uur in die kerk bestee .
Dan begin die groot eet en drink en die saamkuiery
en laataand ‘n antiklimaks, skielik is nog ‘n Kersfees verby.
Kersfees is waarskynlik die belangrikste datum op die almanak,
is tradisioneel , is sinoniem met liggies en gebak ,
met somervakansie , met sekere musiek en geld spandeer -
die realiteit is , die wêreld het hierdie fees gekommersialiseer .
Ek glo nie ek as Christen hoef teen hierdie tradisies te stry
mits Kersfees se ware boodskap nog betekenis inhou vir my :
Die baba in die krip het uiteindelik onskuldig aan ‘n kruis gesterf
maar uit die dood opgestaan en vir my en jou die ewige lewe verwerf.
As die gewoel en die gejaag van hierdie Kersfees om jou vou ,
is bogenoemde die ware Kersboodskap wat ek wil deel met jou.
Mag jy die beloofde vrede van God , ons hemelse Vader ervaar ,
dit is nie ‘n versinsel nie , dit is in Sy Seun , Jesus Christus waar .