Ek sit eendag by 'n straatkafee en wag vir iemand. Om die tyd te verwyl sit ek rustig die verbygangers en beskou. Ons leef darem in 'n onpersoonlike wêreld en ten spyte daarvan dat ons tussen baie mense is en hulle sien en hoor is elke mens maar in sy eie gedagtewêreld vasgevang. Ek het toe aan die volgende begin dink:
MASKERMENSE
Die postuur regop, effe vooroorgeboë,
die tred doelgerig, die gelaat uitdrukkingloos.
Die oë het ʼn veraf kyk, effe verstar op ʼn punt
vorentoe op die grond, met net soms
ʼn vinnige sywaarts, opwaartse blik na iemand in die periferale sfeer.
Dit is die bykans identiese beeld
van elke individu in die tweerigting voetgangersverkeer
op die sypaadjie vlak voor die straatkafee.
Elkeen op pad van en na êrens spesifiek
te midde van die gewoel in die stad.
Die gedagte het spontaan by my posgevat:
Dié alledaagse prentjie van ʼn groep mense
toevallig daar vasgevang in ʼn oomblik van tyd.
Wat se lief en leed lê verskuil
agter die daaglikse roetine en die versluierde oë.
Miskien as ek tot in hulle siel kon sien,
hulle opgewondenheid of swaarmoedigheid kon deel,
sou ek dalk minder hulle baadjies takseer
en meer in menswees met hulle kon kommunikeer.