Paulus leer dat ons uit geloof alleen gered word, Jacobus aan die ander kant leer dat geloof slegs deur werke sigbaar is. Dit klink asof die twee mekaar weerspreek. Inderdaad nie, hulle beskou net geloof uit verskillende hoeke, feit is dat ware geloof deur doen geillustreer word. Dikwels dink ons, ons werke (dade) moet uitsonderlik wees soos om 'n sendeling te word, ens. Feit is dat ons sout van die aarde moet wees en deur alledaagse dade kan ons as ambassedeurs van God se Koninkryk optree>
WERKE UIT GELOOF
My sondige natuur se neiging laat
dat ek God en my medemense haat
maar my geloof in Jesus vryspraak vra
dat ek nou die Gees se vrugte sal dra.
ʼn Glimlag wat wyd op die lippe lê
vertel baie meer as wat woorde sê en
vriendelikheid word wyd gewaardeer
en versag die lewe se swaarkry en seer.
ʼn Tong wat bemoedigende woorde spreek
en nie venynig probeer om af te breek
is een wat medemense se karakter bou
en in moeilike tye help staande hou.
ʼn Stortvloed van woorde bereik die oor
maar die ware boodskap selde gehoor.
Net fyn luister kan diepere emosies peil,
want hartseer word dikwels verskuil.
Die siel se vensters weerkaats en stuur:
“ek minag jou” met kykers wat gluur
maar ”ek wens om na jou uit te reik”
sê oë wat deernisvol na iemand kyk.
ʼn Hand wat sag op iemand se arm lê
is een wat: “ek voel saam met jou,” sê
en omhelsing wys dat jy iemand aanvaar,
sò word God’s liefde tasbaar openbaar.
Biddende denke wat luister na die Gees
neig my om soos Jesus menslik te wil wees.
As ek vir leiding opkyk en luister na Hom
is ek ʼn disspel wat Sy koninkryk laat kom.
​