Hierdie vers het 'n interessante aanloop gehad. Iemand het eendag vir my gesê dat hierdie voël se naam eintlik 'n paradoks is. Ek moes eers die woordeboek nader trek om die betekenis van paradoks te verstaan. Dit beteken dat die woord of begrip in teenstelling is met wat dit genoem word, in hiedie geval, 'n manlike naam vir 'n vrou. Nou ja, dis nie so ongewoon nie en in hierdie geval is dit suiwer die gevolg van die klank van die voël se roep. Die storie het my toe aan die dink gesit veral rondom dinge wat paradoksaal is en moontlike geestelike afleidings wat daaruit gemaak kan word. Paulus, as hy oor die huwelik praat, sê mos: "Mans julle moet julle vrouens liefhê'" maar hy sê
ook: "Julle moet mekaar liefhê". So, wat vir die een geld, geld vir die ander.
PIET MY VROU
Hoog uit 'n boom
roep die Koekoekmannetjie na sy wyfiemaat
"Piet my vrou! Piet my vrou!"
Piet? 'n Paradoks !
Waarom 'n man se naam vir Koekoek se vrou.
Is dit net toevallig
dat die voël se fluit die naamklank mimeer
of is daar dalk
'n groot waarheid uit hierdie paradoks te leer?
Moet ek as man
nie meermale vir my vrou soos 'n eggenote wees
sodat ek voluit kan verstaan
die inhoud van haar vreug en vrees
en ook toelaat
dat sy soms die rol as my man aanvaar
sodat ek kan onthou
sy is deur God geskenk as my grootste steunpilaar?
God het dit immers goedgedink
dat die mens nie alleen sal leef
maar het hom 'n maat gegee
sodat die Heilige Gees
met die huwelik 'n driedubbele tou kan weef.
Piet my vrou! Piet my vrou!
Is dit moontlik dat die roep van die Koekoekmannetjie
so 'n groot geheim kan inhou?
Dat 'n Koning 'n dienskneg kan wees
is ook paradoksaal
maar dit is die volle realiteit
van Jesus se lewensverhaal