Julie 2018. Ons het so jaar en 'n half terug na George verhuis eo hier aan die voet van die Outenikwaberge gevestig. Een van ons omgeegroeplede Ernest Lampbrecht is op 81 nog steeds 'n ywerige stapper wat gereeld ook die berge hier uitstap. Hy het 'n besondere liefde vir die berge en verlustig hom aan die natuurskoon wat daar gevind word. Hy deel ook graag sy ervaringe met ons maar die belangrikste, hy loof en prys die Here as Skepper van die wonderlike dinge wat hy aanskou. Sy entoesiasme was die inspirasie om oor berge te skryf:
​
BERGE
​
Tektoniese plate in die aard se litosfeer
skuif oor en teen mekaar heen en weer
beweging jaarliks millimeters minimaal
meestal skadeloos maar soms katastrofaal
energie word by gesmelte magma gevoeg
diep onder begin vulkane boontoe spoeg
die aardkors kraak, lawa stroom daar uit
stollende gesteente troon bo die vlakte uit
aardkors onder enorme druk frommel op
voue beurend teenmekaar boontoe uitgedop
die eindloosheid van vlakte vir alyd verlore
tog vreugde en blydskap, ʼn berg is gebore.
Vir millenia blootgestel aan wind en weer
die gesteentes deurlopend aan die erodeer
sand en stof deur stormwinde aangewaai
skep ʼn nuwe vrugbare omgewing vir saai
saad luglangs deur wind en voëls gebring
ontkiem en wortels begin grond binnedring
eertydse barre rots is met plante omgewe
die berg eens dood, is voluit aan die lewe
die berg bly nooit dieselfde tot in ewigheid
verandering vind deurlopend plaas met tyd
hier met beeldhouerbeitel word weggekerf
daar met kunstenaarskwas kleure ingeverf.
Elke berg met sy eie besondere argitektuur
pieke sneeubedek wat ysige koue verduur
kranse wat loodreg teen berghange staan
blyplek waar roofvoëls na hulle neste gaan
klowe lê alkant tussen die hange ingekeep
of met sonlig of donker skaduwee gestreep
massiewe rotse teen die spitse weggebreek
rollend êrens teen die skuinstes vasgesteek
water wat stort of rustig deur die dale vloei
oewers met bome, varings en flora begroei
kleure afwisselend groen, bruin veraf blou
ʼn wonder kleurespel in lig, andersins grou.
Berge is anders as die vlaktes daar onder
moeilik bereikbaar maak hulle afgesonder
onder is die wêreld aan’t werkskaf en woel
bo in die stilte word God’s nabyheid gevoel
reikend na die wolke styg bo die hoogtes uit
vergesigte aan ʼn kyker gebied wyd en Suid
wanneer oë die verste horisonne deurpriem
word die grootsheid van die Skepper gesien
berge van begin af deel van God’s verhaal
het ʼn ereplek as gekose natuurlike katedraal
is monumente van gebeurtenisse van waarde
God daal neer, verskyn aan mense op aarde
Abraham bestyg Moria om Isakoffer te slag
God wys hom die grootte van hulle nageslag
Moses se brandende bos op ʼn berg se hang
die Tien Gebooie op Sinia’s berg ontvang
op berg Horeb het die natuurkragte gewoed
Elia het God in die suising van stilte ontmoet
Jesus het Sy saligsprekinge op ʼn berg gepreek
vir die hongerige skares vis en brood gebreek
op Hermonsberg het Jesus glansend geskyn
Moses, Elia en God verskyn, daarna verdwyn
op die Olyfberg het dissipels na bo gestaar
wolk omgewe het Jesus die hemel opgevaar