1992. Op 42 jarige ouderdom, op die hoogtepunt van my loopbaan as Hoof van 'n afdeling van 'n internasionale maatskappy. Ons beleef 'n uitstaande finasiële jaar, die beste ooit en die toekoms lê blink voor my uit. Dan gebeur die haas onmoontlike, ek word summier afgedank, die slagoffer van interne maatskappy politiek. Ek was platgeslaan op die grond gewees. Dit het bykans twee jaar gevat, selfs nadat ek ander werk gekry het om daardie vernedering agter my te sit. Ek het van die gebeurtenis herstel maar dit het 'n letsel gelaat:
ONTANKERD
Werkloos!
'n Ervaring gereserveer,
so het ek altyd gedink,
vir mense van 'n ander kleur,
vir armblankes ook miskien.
Nare realiteit - dit het met my gebeur!
Onwerklik - dis net 'n bisarre droom.
Dit kan nie met my gebeur,
ek wat verseker staan
op die drumpel van my loopbaankruin.
Skielik ontsettend weerloos- wat gaan van ons word?
My fyn uitgewerkte planne
gedagdroom vir die tyd wanneer
die onmoontlike nooit sal gebeur,
is nou so yl, skiet so ver te kort.
Ek wens nou ek was weer 'n kind
wat spoke kan laat verdwyn
met 'n kombers oor die kop-
Hierdie nagmerrie is egter waar.
My selfbeeld is afgekraak.
Ek worstel, waar het ek gefaal?
Verworpe, verneder, verontreg,
bitterheid gal in my binneste op.
Aggressie woel deur my-
o, ek wens ek kon myself wreek.
Oor hierdie gedagtes voel ek skuldig en skaam-
my geloof het nie die toets deurstaan.
"Here Jesus, vergewe my, ek voel U is so ver van my."
Wanhopig kreet ek dit uit: " Here, ek het seergekry! "
Die Groot Ontfermer hoor my en
Hy troos deur my vrou
wat haar arms beskermend om my vou.
Hy gee my nuwe moed as ek sien
dat my kinders vir hulle Pappa bid .
My pad het deur diep waters gegaan
maar ek weet "HY" het my gedra
tot waar ek nou op die gelykpad staan .