Mei 2020. Die Covid virus bring die ware karakter van mense na vore. Mensehaat word ge-openbaar soos nooit tevore en almal neem daaraan deel.
​
COVID-19 IMPAK
Hierdie virus besig om lewensaspekte anders te maak
oornag word gevestigde beskouïnge ten diepste geraak
die vandag van gister het meestal die toekoms ingesluit
in die nuwe vandag van noú word die môres uitgesluit
voorheen in vandag is verskeie dinge vorentoe beplan
onsekerhede van noú het beplanning grootliks uitgewan.
Met gister se vandag is altyd met groot sekerheid gesê
dit of dat is wat wanneer voor die toekomsdeur gaan lê
dagboeke is maande, selfs jare, vol vooruit geskeduleer
die virus het ook die toekoms van die hede gedistansieër
toekomsvisies eens, vol selfvertroue, grensloos onbeperk
nou vaag, selfs angstig, tot die noú van vandag ingeperk.
Julle is te seker van julleself, het Jakobus ernstig vermaan
julle praat groot asof julle planne sonder God’s wil bestaan
miskien juis Sy wil dat die virus die wêreld onderstebo keer
sodat ʼn selfversekerde mensdom weer nederigheid kan leer
in voorspoed het mense al hoe meer onafhanklik geraak
dalk ʼn wekroep vir baie om die Here hulle Koning te maak.
​