Op 17 Julie 2016 is Mila Grace Collett ingeseen op die plaas van haar Oupa. Die geleentheid het plaasgevind op dieselfde plek as waar haar pa Wayne as negentienjarige seun (1994) amper sy lewe in 'n trekkerongeluk verloor het. Menslik gesproke moes hy in die ongeluk gesterf het of as oorlewende ernstig gestrem gewees het maar deur wonderwerk op wonderwerk het hy die ongeluk volkome herstel, oorleef. In 2008 het haar ma Lenore ernstig siek geword aan 'n onverklaarbare siekte wat nooit ten volle gediagnoseer is nie. Die naaste waaraan die dokters kon kom was 'n tipe van auto-immuun siekte en hoewel sy uiteindelik haar lewe kon hervat, het sy as nagevolg daarvan aan hoe bloeddruk gely. Na twee miskrame is sy aangeraai om nooit weer swanger te raak nie omdat dit beide haar eie en 'n ongebore baba se lewens in gevaar kon stel. In Maart 2015 is ontdek dat sy weer swanger was en na 'n baie spanningsvolle tydperk maar sonder enige erge komplikasies is Mila Grace op 11 November 2015 met'n keisersnee gebore.
Die grootste wonder vir my was God se genade, nie net vir haar nie maar vir elkeen van ons:
​
GENADE OP GENADE
Die Doodsengel was daar,
reg om Lenore se lewe op te eis.
Wonderbaar!
God het genade bewys.
Lenore het swanger geraak
en teen verwagting vir Mila gebaar.
Onthou! God maak
altyd Sy beloftes waar.
Soos ons, stap Mila op dié Weg
waar sy dankbaar kan roem:
“Ek het die reg
om myself kind van God te noem!”