top of page

Op soek na leesstof kom ek op 'n ou "National Geographic" tydskrif uit die  negentiger jare af.  Dit bevat 'n artikel oor die Hubble teleskoop en die asemrowende waarnemings wat daarmee gemaak is.  'n Hele nuwe insig oor die grootheid van die skepping word vir 'n mens oopgemaak en daarmee gepaard ook oor die grootheid van die Skepper daarvan: 

 

                           DIE HEELAL

 

In die ewige duisternis gesuspendeer

die ekliptiese heelal deur God geformeer.

Die Galaksiese pole biljoene ligjare van mekaar,

die deursnee tweemaal soveel by die ewenaar.

Biljoene sterrestelsels heterogeen versprei

met nuwes wat die eklips altyd groter laat dy.

ʼn Dinamiese proses van sommiges wat vergaan

en nuutgeborenes wat uit stof en gas ontstaan.

 

Die hemel was eers net ʼn koepel, die aarde plat,

die son alleen en die maan afgeëts teen ʼn sterremat.

Teleskope het die mens se sig verder, dieper geneem

en wetenskap het van planete en hulle mane verneem.

Die ruimte-eeu plaas tegnologie bo die stratosfeer

en sterrekundiges se kennis word astronomies meer.

Terminologie eens eenvoudig, verstaanbaar en beperk,

nou ʼn vaktaal vir diegene wat met hemelliggame werk.

 

Ons son, die groot witwarm bal waarin ons nie kan kyk

is koel en klein wanneer met ander verre sonne vergelyk.

Een maan, in sonlig gebaai wat om die aarde draai,

eintlik min as verskeie mane om ander planete swaai.

Moeder aarde, eens ge-ag as die kosmos se middelpunt

is in die groot geheel weggesteek, skoon eenkant gevind.

Tog, unieke dinge wat ons planeet van andere onderskei,

water, lug, lewe in oorvloed, so verre net hier gekry

 

Die mensdom nog altyd deur die hemel gefassineer,

het elke liggaam, elke beweging in detail bestudeer.

In en tussen die sterre van die nagtelike hemeldoek,

het mense ook nog nooit opgehou om na God te soek.

Helaas, die sukses daarop sal altyd in die niet verdwyn

want sodaniges is geneig om aan God te dink as klein.

Sien God bo, onder en agter die ontelbare sterrestand

want onteenseglik waar, Hy hou die heelal in Sy hand.

                                                                  

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page