Augustus 2015. Verskeie mense wat ek persoonlik ken, gaan deur lewenskrisisse. Hierdie gelowiges word beproef met werkloosheid, egskeiding, siekte en by almal ontketen dit vrae, die hoekoms en die waaroms. Niemand is ooit gevrywaar nie en die vraag is altyd hoe hanteer 'n mens dit? Dit het my laat terugdink aan my ervaringe, van toe en nou:
TERUGBLIK
In my vroeë Veertigs het ek my werk verloor, my wêreld het in duie gestort
en wanhopig het ek gewonder wat gaan van ons word.
In my angs het ek gebid dat die Here my gebed sal verhoor om die toekomsgordyn
ʼn effe oop te maak sodat my onstuimige gemoed net tot bedaring kon raak.
Die Here het geantwoord maar op Sy besondere manier van tydverwyl, dit het my
meer as twintig jaar gevat om uiteindelik Sy manier van doen, te snap.
Vandag weet ek, Hy het oor my swaarkry gehuil maar tree vir tree het hy die lewensroete
saam met my afgelê en my telkens opgetel as ek vir doodgaan onder ʼn bos wou gaan lê.
Verliefdheid is intens maar van korte duur, ware liefde is soos verouderde wyn, dit vat geduld en tyd
om die karakter van geur, van kleur en palet in sy volheid te ontsluit.
Om te deel in soet en suur is die resep om ʼn langtermynverhouding te kweek. Mirre en kruie
vereis die proses van fyn stamp en maal vir die wonderlike resultaat van aromatiese reuk.
As die lewe my heen en weer stamp, my stukkend slaan, dan gaan die vorige lewenslesse vinnig
by my verby en ek wens dan weer dat die Here tog vir my ʼn kitsoplossing wil laat kry.
Ek sukkel baie keer om te verstaan dat ek oor en oor beproewinge moet ervaar, maar
dan is my troos: ek bly altyd die appel van Sy oog en so is dit ook altyd vir jou waar.