Ek luister na 'n Kersfeesspreek en die klem val op die woordjie "Vandag". Soms, uit die bloute, begin my gedagtes met my weghardloop. Vandag is hede en staan in kontras met gister wat verby is en more wat nog moet kom. Die gebeurtenis op die herdersvelde van Betlehem is egter tydloos, dit omsluit die ewigheid. Dis moeilik vir ons as mense wat aan tyd en die relatiwiteit daarvan verknog is om werklik tydloos te raak. Die "vandag" waarna verwys word het ewigheidsbetekenis:
VANDAG
Tydsbegrip leer vandag is nou,
gister is verby
en môre moet nog ontvou.
Die verlede beaam,
deur ‘n pessimistiese oog gesien,
dat die lewe net uit ellende bestaan.
Die hede is benard,
net ‘n voortsetting van gister se verdriet
en die toekoms is in elk geval swart.
Maar eenmaal verskyn engele in die nag
aan herders in die weidingsveld
en ‘n keerpunt kom toe hulle sê : “Vandag“ .
Net daar het ‘n wonder plaasgevind
want gister en môre
is vir altyd in daardie “vandag“ vasgebind.
“Vandag“ is tot in ewigheid lang
want in “Vandag is gebore“
het God alle tyd in ‘n enkele oomblik vasgevang.
Daardie “vandag“ het nog nooit verbygegaan,
dit is ‘n werklikheid in die hede
en sal tot in alle ewigheid bly staan.
Die loflied wat die engele sing
bring steeds lof aan God
want daardie “vandag” het vrede gebring.