top of page

2019. Nav 'n gesprek word ek herinner aan die magdom reëls waaraan mense gedurigdeur onderwerp word.  Almal, het tot 'n mindere of meerdere mate tydens hulle opvoedingsjare daarmee te doen gehad.  Ouers, onderwysers en predikante het almal meegedoen om die regte lewenspad te identifiseer.  Alle aspekte van die lewe is onder die loep geneem.  Kleredrag, haarstyl, musieksmaak, taalgebruik, vriendekring, ens. ens. was daaglikse besprekingspunte en "leiding" is gegee oor die reg en die verkeerd van die lewe.  In die proses is 'n n uwe geslag navolgelinge of rebelle gekweek.  Die boodskap wat Jesus gebring het, was om mense van sonde maar ook matelose wette en regulasies te bevry. 

​

                       ERFSONDE

                                                                  

ʼn Konstante refrein van mag nie, moenies en moet

daagliks gebombardeer op ʼn naïewe kindergemoed

meestal goedbedoeld deur besorgde ouers afgeforseer

om hulle kinders koersvas van verkeerde weë te keer

oorgeërfde reëls getrou van geslag tot geslag oorgedra

sonder om sin en redelikheid daarvan enigsins te bevra

menige daarvan sal ooit die toets van logika deurstaan

maar sal as “sommer” as die waarheid bly voortbestaan.

 

Lewensvryheid word sò goedsmoeds maksimaal beperk

massas reëls wat geld - tuis, by die skool, ook die kerk

paranoïes, satan en sonde wag om elke hoek en draai

trap in jou spoor of verseker in die hel gaan jy ewig braai

die lewensvisie draai suiwer om in jou pasoppens te bly

jou grootste vrees word om van die nou pad af te gly

oorbluf, onseker, maar gehoorsaam durf jy die lewe aan

geindoktrineer oorbewus van jou loop, jou sit en jou staan.

 

Hartseer maar waar, êrens het iemand ʼn opinie bereik

sonder om die meriete van daardie idee deeglik te bekyk

kort voor lank word dié siening as enige waarheid versprei

ongeag of die dwaling tot gespanne menseverhoudings lei

die impak van outorotêre opvoeding word maklik voorspel

die nuutste generasie is of ʼn dissipel of ʼn uitgesproke rebel

dié tipe dissipelskap lei dikwels tot leef met oogklappe aan

rebelsheid loop gevaar om uit beginsel alles teen te staan.

 

Sware wettisisme wat Fariseërs van gewone mense wou hê

deur Jesus opgesom as om God en mekaar hartlik lief te hê

eerder as om fanaties splinters in jou naaste se oog te soek

draai die wang of loop die tweede myl saam, is Sy versoek

nie net het Sy revolusionêre leringe mense oorbluf gelaat

Sy begripvolle optrede het getuig van liefde, nooit van haat

Hy wil mense verlos van die sware juk van sondeslawerny

sodat hulle vreesloos vreugdevol volkome vryheid kan kry.

​

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page