AUTOBIOGRAFIE
Wie is ek? Ek het nie ʼn naam wat dalk êrens ʼn klokkie gaan laat lui nie. Ek het nêrens ʼn besondere prestasie behaal wat my in enige van byvoorbeeld die akademiese, ekonomiese, finansiële, politieke, tegnologiese of teologiese annale sal verewig nie. Ek het nie uitsonderlike titels of het nie baie belangrike posisies beklee nie en selfs op sportgebied is ek maar ondergemiddeld. Hoe hard ek ookal probeer om dalk êrens deur die samelewing as uitsonderlik geag te word, is ek op die ou einde maar niks meer as net:
​
ʼn eggenoot, ʼn pa, ʼn oupa, ʼn familielid, ʼn vriend; ʼn kollega, ʼn buurman, ʼn belastingbetaler of net ʼn doodnormale man op straat nie. Die feit dat ek myself met so baie verskillende rolle kan identifiseer maak my op sigself al reeds meer uitsonderlik as ʼn groot gedeelte van die mensdom. Dit is ʼn onteenseglike feit dat baie mense net nie die voorreg het om hulleself op so baie gebiede gebonde te voel nie. Dit sluit baie ander “doodnormale” soos myself in maar wat dalk kinder- of kleinkindloos is of dalk op ander gebiede ʼn agterstand ervaar. Die bevoorregting word baie meer uitgelig as die miljoene minderbevoorregtes soos onder andere ongeletterdes, werkloses, huisloses, eensames en vlugtelinge ingesluit, word.
My oupaskap dui op bo gemiddelde ouderdom wat my nie stokoud maak nie maar vergeleke met die algemene bevolking wel as senior burger laat kwalifiseer. Dit is ʼn seëning wat nie almal toeval nie en as my algemene goeie gesondheid bygereken word, is ek dalk wel deel van ʼn kleiner groepie besonder geseënde individue. Vir alle praktiese doeleindes is my naam Jan Alleman.
​
Ten spyte van die voorafgaande stellings is ek nietemin uiters besonders. Nie op grond van enige prestasie waarmee ek kan spog of pogings waarop ek kan roem nie. Inteendeel ek het nie eers daarvoor gevra nie, dit is my vrylik aangebied. Ek het dit ook nie onmiddellik aanvaar nie want ek was aanvanklik nie bewus dat ek dit bitter nodig het nie. Die Gewer het addisionele moeite gedoen om my van die waarde daarvan te oortuig en om die geskenk te aanvaar. Nou kan ek roem dat ek insig het en God ken en ek het die reg ontvang om myself ʼn kind van die Lewende God te noem.
​
Wie is die Lewende God waarna ek verwys? Van oudster af het mense gode aanbid en vereer. Hierdie gode was meesal sigbare natuurlike objekte in die hemel, op vaste aarde of binne-in die waters van die aarde, andersins mensgemaak uit natuurlike hulpmiddele. Mense is ook en word steeds onder andere as gode aanbid. Die God waarna ek verwys het ek nog nooit direk gesien of nog nooit direk gehoor praat nie. Tog kan ek Hom herken in wat Hy doen en kan Hom hoor deur dit wat ek lees, wat ek vertel word en wat in my gedagtes opkom. As Christen glo ek in die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees.
​
Ek kan my nie vereenselwig met die idee dat hierdie God ook onder andere die god Jahweh van die Judaïsme en die Allah van die Moslems is nie. In ʼn valse gees van versoening word dit gepredik (selfs soms deur Christene) dat almal eintlik maar dieselfde god, net met verskillende aanspreekvorme aanbid. Ander gelowe ontken egter dat Jesus Christus en die Heilige Gees ʼn onlosbare deel van hierdie Goddelike eenheid uitmaak. Om my standpunt te verdedig, gebruik ek die volgende voorbeeld: as Jan Alleman getroud is met Vrou Alleman en daar na die twee as Egpaar Alleman verwys word, het laasgenoemde ʼn meervoudige betekenis. Nie Jan Alleman of Vrou Alleman kan individueel as Egpaar Alleman kwalifiseer of geïdentifiseer word nie. Dan is hulle wat my aanbetref iemand heeltemal anders maar definitief nie Egpaar Alleman nie.
​
As Christen glo ek van harte dat Jesus, wat as mens gebore is en gesterf het, tussen mense geleef het ook God is van ewigheid tot ewigheid. Jesus, die eniggebore Seun, is deur die Vader verwek en is werklik God uit God en Lig uit Lig. Die geskiedenis getuig van Hom en niemand het nog ooit Sy bestaan betwyfel nie. Sy Godheid word wel ernstig bevraagteken en dikwels totaal afgeskiet maar ek is een honderd present oortuig dat Hy my Saligmaker is. Toe Hy aan die kruis, net voordat Hy Sy laaste asem uitgeblaas het, verklaar het: “dit is volbring” het Hy volkome ook vir my sondeskuld betaal. Hy het my mede-erfgenaam van die ewige lewe in God’s Koninkryk gemaak.
​
Die Heilige Gees gaan van beide die Vader en die Seun uit. Jesus het immers Sy dissipels meegedeel dat Hy die Vader sou vra om die Heilige Gees in Sy plek te stuur te stuur wanneer Hy na die Hemel opvaar. Die Heilige Gees oortuig ons van sonde en om ons verlossing buite onsself in Jesus te soek en te aanvaar. Dra ek die vrugte van die Heilige Gees, leef ek na die voorbeeld wat Jesus vir my gestel het en word al hoe meer gelykvormig aan Hom. In Jesus se gebed bid Hy dat Hy een met die Vader kan wees en dat almal wat Hom volg een met Hom kan wees. Die Heilige Gees bind ons almal saam as een groot geloofsgemeenskap.
​
Alle ander lewende wesens is deur God geskape. Wat vir my opvallend is, is dat dit wat die engele en mense van enige ander lewende organisme onderskei, is dat elkeen ʼn persoonlike vrye wil gekry het. Elke individu kan dus vir homself besluit of hy vir of teen God wil wees. Dit laat by my die indruk dat God nie Sy skepselle minderwaardig ag nie en hulle dus nie teen hulle sin of ten alle koste wil oorheers nie.
Dit blyk of die vrygewigheid van God ongelukkig ʼn nadelige gevolg gehad het. Onder leiding van die satan het ʼn groot aantal engele uit pure magsbeheptheid besluit dat hulleself oor God se skepping wil heers. Hulle was ook waarskynlik jaloers op die bevoorregte posisie wat mense geniet het en wil derhalwe die kroon van God se skepping van ʼn ewige lewe in God se teenwoordigheid ontneem. Satan was slinks en eerder as om God direk teen te staan, het hy God aan Sy eie unieke karaktertrekke van heiligheid, reinheid en geregtigheid bly herinner. Hy het die mensdom verlei om teen God se wil teen te staan en letterlik God in ʼn hoek te probeer dryf om die mens uit Sy ewige teenwoordigheid te ban.
​
Bogenoemde kommentaar oor wie God vir my is, is uit ʼn suiwer sekulêre oogpunt, waarskynlik hoogs aanvegbaar. Baie sal heftig van my verskil. Ek kan God nie bewys nie en dit is natuurlik petrol op die vuur vir enige een wat nie my denke deel nie. Dit is egter nie my oogmerk om God aan enige iemand te probeer bewys nie, ek deel net dit waarin ek glo. My geloof is gebaseer op grond van blootstelling van verskeie aard, lees van die Bybel, luister na preke, gesprekke met medegelowiges en so meer.
​
Wat wel waar is, is hoe langer ek die pad saam met God stap en oor Hom leer, hoe groter word my bewondering vir Hom. Byna daagliks ontdek ek nuwe fasette in die persoonlikheid van God wat my oorweldig laat want God is altyd meer as wat ek kan dink of beredeneer. Ek is egter steeds besig om al hoe meer te besef dat God se gedagtes en weë inderdaad ver bo myne gesetel is. Tog dryf sulke gedagtes nie God verder van my af nie maar bring dit my eerder nader aan die karakter van God.
​
Ek deel graag my lewenservarings oor God as Skepper, as Middelaar en as Trooster:
Ek “sien” en “hoor” die Vader in die skepping, die wêreld waarin ons elke oomblik leef. As iemand wat bevoorreg is om na aan die natuur te leef en te werk, word ek oorweldig oor enersyds die kompleksiteit en dan amper paradoksaal daarteenoor die eenvoud van die natuur. In die natuur word die wetenskap, kuns, wiskunde, al die dissiplines waaroor die mens kennis beskik, gevind. Hoe dieper menslike navorsing die geheime van die natuur ontbloot, hoe meer staan jy verstom oor die wonder van die skepping.
​
Dawid het snags gelê en die hemelkoepel met sy talryke sterre bo hom bewonder. Dit het aanleiding gegee tot die skryf van Psalm 8. Dink daaraan. Met die kennis van daardie tyd was die naghemel waarskynlik ʼn donker doek met menigte ligpuntjies wat daarop flonker en die maan die uitstaande ligbal wat soms die aarde helder verlig het en ander kere nie. Bedags het die son die hemel oorheers en het opgekom en ondergegaan oor wat beskou is as ʼn eindlose plat aarde. Waar hy snags was en wat van die sterre bedags geword het, was onduidelik – miskien het Dawid gedink God skakel hulle aan en af.
​
Ons het soveel meer kennis vandag. Ons weet dat die aarde soggens eintlik sonwaarts draai en met skemer van die son af wegdraai. Ons weet dat die ligpuntjies wat ons snags aanskou onder andere ander sterrestelsels met hul eie sonne en mane verteenwoordig. Ons weet dat hierdie hemelliggame oor duisende ligjare ver strek, ons kan dit in verstaanbare afstand bereken en dan sprakeloos ontdek ons het nie werklik die vaagste benul van hoe ver dit regtig is nie. As ons aan God dink as lig dan is Hy tot daar waar die verste ligpunt is en dan vra ons onwillekeurig: “Hoe groot is U?”
​
Vandat die eerste teleskoop in die laat middeleeue ontdek is, probeer mense die buitenste ruim ontleed. Nou is daar al ruimtereisigers wat daar “bo” gaan rondkyk het, bevestig het dat die aarde rond is en tussen ander planete rondsweef. Sommiges het selfs God gaan soek en Hom nie gesien nie – sinies verklaar Hy bestaan nie. In die eksplorasie van die hemele is daar altyd ʼn onderliggende motief, om nog lewe te vind. Daar is al al in die stof van die maan, Mars en ander planete “rondgekrap” maar lewe tot dusver nog nie gevind nie. Die aarde is weliswaar nie die middelpunt van die Heelal nie (so het die slim mense al reeds bepaal) maar is blykbaar die sentrum van waar die meeste (en dalk die enigste) lewe voorkom. Ag God die mens so hoog dat Hy ʼn spesiale plekkie net vir ons gemaak het? “Wat is die mens dat U aan Hom dink, U het hom weinig minder gemaak as ʼn goddelike wese,” aldus Dawid.
​
Steeds sprakeloos oor die omvang en die eindloosheid van die Heelal wat God spesiaal net vir mense geskep het en wat volgens Dawid met Sy vingers voorberei is, kom die vraag telkemale en onwillekeurig by my op: “Here, hoe groots is U werklik?” Eweskielik kan ek my nie vereenselwig met begrippe en verwysings soos: “die Oubaas” of “die Man daarbo” wat nie noodwendig disrespekvol gebruik word nie maar wat net nie reg laat geskied aan wie en wat God is nie. Ons Skepper verdien baie meer agting en respek as wat deur die “goedige” verwysings geïmpliseer word. Het Hy die skepping met ʼn enkele woord oombliklik tot stand gebring of was dit ʼn geleidelike proses? Ek weet nie en dit maak nie regtigwaar saak nie want my aan betref is beide is vir Hom ewe moontlik. Ek dink nogal dit ʼn geleidelike en strukturele proses was. Ek glo God het dit geniet om te skep en om elke dingetjie en proses in plek te sien kom soos weerspieêl word in die skeppingsverhaal van Genesis: “Aan die einde van die dag het God Sy werk aanskou en gesien dat dit goed was.”
​
In die natuur begin ek die karakter van God te ontdek. God het al die natuurwette geformuleer waaraan die hele skepping onderworpe is. Daar is ritme en logika, patrone en balans. Elektrone, protone en neutrone is relatief tot hulle mikro-mikro groottes ontsaglike afstande van mekaar verwyder net soos die makro-makro planete, sterre en ander hemelliggame oor ontsaglike ligjaarafstande van mekaar verwyder is. Dis asof ʼn mens vanaf ʼn sentrale posisie enersyds mikroskopies kan neerwentel na die kleinerwordende partikels. Andersyds makroskopies na die Godgeskape groterwordende hemelliggame kan opwentel. Wat is tussen in? Ruimte op ruimte: niks? Vir my is God daar teenwoordig in al die “niks” tussen alles wat “vas” is maar die “vas” bestaan ook maar net uit boustene van partikels wat op sigself weer vol “niks” is. God is inderdaad alomteenwoordig!
​
Die skepping is onderworpe aan die reëls en die wette wat God geskep het en funksioneer ten alle tye daarvolgens maar Hyself word nie daardeur aan bande gelê nie. Wanneer nodig en uit en uit vir die beswil van mense openbaar Hy Sy mag en bokant die “onmoontlike.” Die see maak oop sodat Sy volk droogvoets daardeur kan trek en soveel ontelbare wonderwerke word deur die Israeliete ervaar wat getuig dat God Sy skepping beheer. Hy laat die aarde stadiger draai sodat die Israeliete hulle vyande in ʼn “langer dag” behoorlik kan verslaan en vir Hiskia laat Hy aarde terugdraai op sy as sodat die skaduwee op die sonwyser kan terugskuif. Dit druis absoluut teen alle fisiese begrippe in en menslikgesproke moes dit daar en dan die einde vn die aarde beteken het…maar vir God is alles moontlik.
​
Soveel krag en soveel mag, dit maak ʼn mens eintlik bang en jy voel jy wil eerder vir Hom wegkruip. Dan ontdek jy ander fasette van God wat jou maak mens dat jy soveel nader aan Hom kan wees. God is die grootste kunstenaar van alle tye. Dit sluit alle vorme van kuns soos musiek, skilder, beeldhou, beweging, selfs kosmaak in.
​
God het die diere- en planteryk wat op land en in water voorkom geskep, so ʼn groot verskeidenheid dat die mens nog steeds nie alles waargeneem het nie. Daar word letterlik daagliks nuwe lewensvorme ontdek wat ons nie geweet het bestaan nie. Die wonder is dat nie een in isolasie bestaan nie maar belangrike rolle in ekosisteme vervul. God het inderdaad alles vir almal geskape en Sy skepping vorm ʼn wonderlike, gebalanseerde geheel en Hy het die mens as heerser daaroor aangestel. Jammer dat ons dikwels faal om ons verantwoordelikheid na te kom.
​
God het kleur en klank en reuk en smaak geskep en dit as wonderlike geskenke aan mense gegee om mee te eksperimenteer. Hyself het wonderlike voorbeelde daargestel om te wys wat gedoen kan word. Dink aan sonsopkomste en sonsondergange met berge, see en landskap as agtergrond waarteen reënboogkleure afgespeel word. God het ʼn oog op die mooie. Om van klank nie te praat nie: die ruising van die see, water wat kabbel en die simfonie van klanke deur voëls, diere en insekte voortgebring. Ek glo God verlustig Hom in die musiek deur mense gekomponeer en voorgedra.
​
Hoe arm sou die lewe gewees het as daar nie reuke was nie. Elkeen vertel ʼn storie. Nie noodwendig altyd ʼn goeie storie nie maar wel altyd ʼn leersame een. Ek glo toe God in die Paradys gewandel het, Hy Hom verlustig het in die soet geur van ʼn Katjiepiering op die skemerluggie gedra. En smaak. God het ons bederf met die vermoë om soet en suur, bitter en sout op die tong te onderskei en van kos wat alle smake bevredig te voorsien.
Die Seun, Jesus Christus het ek self nooit gesien nie. Op grond van verskeie geskiedkundige literatuur (wat onder andere die Bybel insluit) en geskryf deur outeurs van verskillende agtergrond (wat verskillende gelowe insluit) het ek geen rede om Sy bestaan te ontken of enigsins in te twyfel nie.
Ek ”hoor” Jesus deur Sy uitsprake soos in die Bybel neergepen, te lees en wanneer ek na preke oor Sy uitsprake en Sy optredes luister.
Jesus as mens het ook bomenslike dinge gedoen wat Hom onderskei van gewone mense. Hy gooi chemiese wette omvêr en verander water in wyn en Hy minag swaartekrag en loop op die see. Sonder farmaseutiese produkte en komplekse sjirurgie wyk siektes en word gebreke op Sy bevel herstel. As Hy aanspraak maak dat Hy God is deur aan Sy dissipels te verklaar: “Ek is wie Ek is” in ooreenstemming met hoe God Homself aan Moses geopenbaar het, dan word Sy Godheid inderdaad aan my bevestig.
​
As mens, het Jesus karaktertrekke van God aan ons kom openbaar wat ʼn mens eenvoudig net sprakeloos laat. Dit begin met waarskynlik die bekendste uitspraak in die Bybel, Johannes 3:16 wat lui: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy Sy Eniggebore Seun gegee het, sodat diè wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe kan hê.” God bied inderdaad aan elke mens die geleentheid om nie op grond van sonde geoordeel te word nie maar om vryspraak te ontvang. God gee om vir mense en as dit van Hom sou afhang, sal niemand verlore gaan nie. Hy het egter die mens so hoog geag dat hy hom ʼn vrye wil gegee het en as ʼn mens verkies om die genade van God te verwerp, is dit die individu se keuse. God dwing niemand nie maar Hy doen alles wat moontlik is om mense Sy genade te laat ontvang.
​
Dit is presies wat Jesus hier op aarde kom demonstreer het. Hy het met sondaars gemeng om sò die Koninkryk so na moontlik aan mense te bring. In Jesus se bediening ontdek ʼn mens die deernis wat Hy vir mense gehad het. Die woorde dat Hy innig jammer vir iemand gevoel het, getuig vanself van hoe Hy mense geag het. Jesus het wel streng en op die man af teen die Skrifgeleerdes en Fariseërs opgetree maar juis omdat hulle mense belas het met sogenaamde Goddelike wette wat nie deur God ingestel is nie. Jesus het kom illustreer dat God groot in Genade is. As Sy eie dissipels vuur van verwoesting op Samiritane wil afbid omdat hulle Hom nie in hulle dorp wou laat oornag nie, wys Hy hulle skerp tereg. Ter wille van ʼn enkele persoon wat dalk tot bekering kan kom, spaar Hy ʼn hele dorp. Hy is inderdaad die Een wat aan die deur bly klop en uitroep om ingenooi te word.
​
Jesus se dringendheid om sondaars van Sy genade en redding te oortuig, word verder bevestig dat Hy, aan die einde van Sy aardse bestaan, nie mense aan hulleself oorgelaat het nie. Hy het God gevra om die Heilige Gees te stuur wat in gelowiges woon. Hy het Sy Kerk op aarde gevestig en die opdrag gegee om met Sy bediening voort te gaan. Hy bly aan alle mense sigbaar deur middel van Sy kerk, wat gelei deur die Heilige Gees, Sy lig uitstraal. Waar lidmate van die kerk faal, gryp die Heilige Gees in om mense van hulle sonde te oortuig en hulle redding, buite hulleself, in Jesus Christus te soek en te vind.
Die Heilige Gees het ek ook nog nooit gesien nie maar ek “sien” Hom in Christen gelowige mense se optrede. Christene wat die karaktertrekke van die Vader en die Seun in hulle lewens uitstraal maak die Heilige Gees sigbaar. Ek “hoor” die Heilige Gees in my gedagte as my gewete my aanspeek en wanneer ek geestelike literatuur lees of na geestelike gesprekke en musiek luister.
​
Die werking van die Heilige Gees in ongelowige mense se lewens word wonderlik geïllustreer met Jesus se kruisiging. Twee rowers word saam met Hom gekruisig en beide het aanvanklik aan die honende bespotting van Jesus meegedoen. Dan gebeur iets merkwaardigs. Die een hou ophou spot en begin die ander een tereg te wys. Hy maak melding dat hulle hul straf verdien het en dan pleit Hy by Jesus: “dink aan my as U in U Koninkryk kom.” Wat of wie het gemaak dat hy daar in sy sterwingsuur tot bekering kom, meer nog dat hy skielik besef het dat Jesus Koning is en in staat is hom van verlorentheid te red. Wat my aanbetref het niemand anders as die Heilge Gees daar evangelisasiewerk gedoen nie. Hoe groot is God se genade?
​
Vandag is dieselfde waar. Ons is van sondige natuur geneig om God en ons naaste te haat. Insgelyks glo ons maklik die leuen dat ons eintlik nie sondig nie of dat sondetjies van so ʼn aard is dat dit nie ewige verlorentheid regverdig nie. Op grond van die beter sy van ons lewens behoort ons op eie verdienste toegang tot die Hemel te kry. Vergeleke met rêrige sondaars soos moordenaars, diewe, prostitute, dwelmverslaafdes, pedofiele, ens is ons eintlik leliewit. Na alles: eiewaan, ʼn bietjie oneerlikheid met belastingopgawes, ligte pornografie, so nou en dan uithak met drank, onder die “belt” grappies, ens word as dood menslik aanvaar. Ek lees die bergpredikasie van Jesus en kom met ontnugtering agter dat wanneer Paulus in Romeine verklaar dat almal sondig is, dat ook ek genade bitter nodig het.
​
Deur die Heilige Gees se werking in ons verstand begin ons besef dat alle sonde, hetsy klein of groot, witboordjie- en blouboordjiemisdaad vir God onaanvaarbaar is. Aldus Paulus, almal wat hulle aan verkeerde optredes skuldig maak, kan nie toegang tot die Hemel kry nie. Deur Sy werking begin ons die stem van Jesus te hoor wat uitnooi: “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is en Ek sal julle rus gee. Die Heilige Gees oortuig dat status, rykdom, prestasie en plesier nie nie die belangrikste norme van die lewe is nie maar dat diens in die Konikryk van Jesus van veel groter waarde en langtermynbelegging is. Deur die Heilige kan ons met die hart glo en met die mond bely dat Jesus die Koning is.
​
Autobiografie??? In alle billikheid, as die leser sou vra: “Wat het bogenoemde relaas oor die Drie-enige God met ʼn autobiografie uit te waai?” Daarop antwoord ek met oortuiging: “Alles!”
​
Ek is soos enige ander mens gebore. Ek was daar maar kan niks onthou nie. Van my vroegste peuter en kleuterjare is ek blootgestel aan die Lewende God want ek het Christen gelowige mense as ouers ontvang. Ek is kleintyd gedoop en van kleins af was kerk deel van my opvoedkundige blootstelling. Ek was deel van ʼn wonderlike Verbond soos in die Tien Gebooie vervat: “Ek sal my genade bewys tot in die duisendste geslag.” Het ek enige aandeel gehad in wie my ouers was, waar en hoe ek sou opgroei? Was dit toevallig of was dit voorsiening? Ek glo dit was deur God bepaal.
​
Ek het soos baie ander kinders Sondagskool bygewoon, bybelversies uit my kop moes leer en jammerlik gefaal om dit te onthou of die diepere waarde daarvan te waardeer. Kerktoegaan was maar baie kere ʼn stryd maar aangesien my ouers dogmaties daaraan geglo het, het ek nie veel van ʼn keuse gehad nie. Ek het selfs eendag slae gekry omdat my Pa bemerk het dat ek tydens die Dominee se laaang gebed in die kerkbank gehang het eerder as om respekvol regop te staan. Ek onthou ook hoe ek as laerskoolkind na ʼn preek geluister het oor wedergeboorte. Dit het my laat wonder maar ook nie vir te lank nie.
​
Tydens my skooljare (op sigself wonderlike seën waarop vele nie aanspraak op kan maak nie) was Godsdiens altyd ʼn integrale deel van my lewe. My Pa het getrou huisgodsdiens gehou en kleintyd kon ek elke aand van die skriflesing net onthou: “en Moses het gesê” maar ten spyte van my Pa se beste pogings kon ek nooit onthou wat die man alles kwytgeraak het nie. Ek het bybel gelees (lees synde nog ʼn voorreg te wees wat baie nie beskore is nie en wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar) en gebid maar sonder om werklik waar God werklik te ken en te ervaar. Ek dink ek het hard probeer om nie sonde te doen nie sonder om selfs te besef wat sonde nou werklik is. So lank ek nie moord gepleeg, erg gesteel of my gulp toegehou het nie (my Ma was nogal baie bedag daarop veral toe puberteit deel van my lewe geword het) was ek basies “orraait” en as ek soms miskien daaraan sou dink” “gehoop ek sal eendag Hemel toe gaan”
​
Eers tydens my studiejare (wat ʼn ongelooflike voorreg!) is ek gekonfronteer met die stelling dat ʼn mens nie om vergifnis moet bid nie maar net moet dankie sê dat jy dit reeds ontvang het. Die Heilige Gees het ernstig met begin werk en my met Geestelike beginsels begin konfronteer. Erêns het daar geleidelik verandering begin kom en my verhouding met die Here het ʼn realiteit begin word. Nie iets wat oornag eensklaps daar was nie maar ʼn geleidelike proses waar die Here geduldig meer en meer deel van my lewe geword het. As ek terugkyk, is dit moeilik om ʼn spesifieke tyd of datum te bepaal maar bykans ongemerk het die Here my lewe binnegedring en onlosmaaklik deel daarvan geword.
​
Ek het die arbeidsmark betree (nog een van vele voorregte), is getroud (nog ʼn grote) en later kinders gekry (genade onbeskryflik groot) en gelewe. In my lewe het ek baie teleurstellings en terugslae ondervind. Soos baie ander met huweliks-, sosiale-, en werksuitdagings gekonfronteer en gestoei. Ek was eenmaal werkloos en was oortuig dat dit die einde van my wêreld was. Wat sou van my en my gesin word end an natuurlik: “Waarom?” Oorlewing met vrou en kinders wat ernstig siek word en om finansiële verpligtinge na te kom, is deel van die vele slaggate waardeur ʼn mens worstel.
​
Maar daar was ook baie ongelooflike hoogtepunte soos om te kon reis (plaaslik en oorsee) en blootstelling te kry wat baie mense maar net van droom. As gesin het ons vakansie gehou, by die wildtuin en by die see. Ons dink so maklik dit is deel van almal se lewens totdat ons eendag ontdek dat dit eintlik min beskore is. Dan die vraag (net nie te ernstig nie) hoekom ek?
​
Die jare het aangestap en uiteindelik die punt bereik waar senior burgerskap voorgelê het. Op die stadium van jou lewe begin ʼn mens meer te reflekteer oor wat verby is as wat jy beplan oor wat nog vorentoe wag. Nou word daar meer gedink oor waar jy jou bevind, hoe jy daar gekom het en wat jy gaan agterlaat. Nou besef ek meer en meer dat in my lewe, ten spyte van die oënskynlike normaliteit daarvan, die Here altyd volkome deel daarvan was. Sonder dat ek altyd daarvan bewus was, was Hy inderdaad Immanuel, God met ons. Baie dinge word nou vir my glashelder en begin vir my baie meer sin maak as voorheen.
​
Jesus het verklaar: “Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde.” Dawid het getuig: “U het my geken toe ek nog in my Moeder se skoot was”; Jesaja het getuig: “U het my by die naam geroep’ jy is Myne”; Jesus het aan die rower gesê: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”
Jaar vir jaar se Kersfees word baie meer as net vakansie- en familietyd. Bethlehem se babatjie is die Eniggebore Seun wat God as die grootste en wonderlikste geskenk gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê. Goeie Vrydae onderstreep hierdie waarheid dat Hy Sy lewe geskenk het as betaling vir onder andere my sondes. Opstandingssondae word ʼn blywende simbool dat die dood oorwin is en dat ook ek uit die graf sal opstaan. Pinksters bevestig dat die Heilige Gees uitgestort is en dat ook ek Hom as erfenis gekry het. Geskenk op geskenk uit God’s vaderhand.
​
Maar daar is veel meer as die aantal jaarlikse Geestelike vakansiedae. Daar is elke oggend wat ek my oë oopmaak en ʼn nuwe dag, na ʼn beskermde nagrus, tegemoet kan gaan. Ek begin die dag met ʼn warm stort, daarna kombuis toe waar ek in die spens en yskas middele haal om ontbyt te geniet. Ek klim in my kar en gaan werk of ander plekke toe. Middagete betaal ek met kontant uit my beursie en skemer as ek tuis kom, geniet ek ʼn koppie koffie of selfs ʼn glasie wyn. Sit dan aan vir ʼn heerlike ete wat meermale vleis insluit, dan nie. Ontspanning sluit in om na televisie te kyk, met vriende gesellig te verkeer en so nou dan op reis te gaan.
​
EK woon in ʼn sekuriteitskompleks. Ek lees van die geweldige hoë misdaadsyfer, het ook kennisse wat al met die realiteit daarvan gekonfronteer is maar eie ervaring is skaars. Siekte en dood is deel van almal se lewens. Ten spyte daarvan, is ek nog steeds getroud met my enigste wederhelf en gaan dit relatief goed met my kroos. So kan ek voortgaan met alle aspekte van my lewe.
Die Here het werklik vir my ʼn besondere maat uitgemeet. Hy oorlaai my met seëninge dag na dag en met skaamte moet ek erken en bely: dikwels is ek onvergenoegd. Soos die tollenaar kan ek net prewelend bid: “Here, wees my arme sondaar genadig.” Dankbaar weet ek, eerder as my veroordeel, hoor ek Sy genadige stem: “My genade vir jou is genoeg.”
​
Ek wens ek het genoeg en hoogs betekenisvolle woorde gehad om die verdiende lof en eer en bewondering as offer aan die Here te bring wat Hom toekom. Meer nog, ek wens dat my alledaagse lewe van so ʼn gehalte was dat dit inderdaad ʼn lewe is wat van dankbaarheid getuig. Ek wens dat my lewe inderdaad kon reflekteer dat ek die Here God liefhet met my hele hart, my hele verstand en al my kragte en my naaste soos myself. In alles faal ek jammerlik maar Hy is en bly getrou.
Gelukkig is God liefde. Die omvang wat ek sukkel om te verstaan. Gelukkig is God genade, baie meer as wat ek begryp. Ak waaraan ek vashou, is geloof – wat Hy my skenk. Hoop – wat Hy bewerkstellig het en die grootste van alles, liefde – wat Hy was, is en tot in ewigheid sal wees en wat Hy mateloos, ook oor my, uitstort.