top of page

2018.  Februarie - Ek baklei met die Here oor die plaas se likwidasie wat na langer as 'n jaar net nie afgehandel word nie en my in groot onsekerheid laat.  Ek bid vir antwoorde maar voel eerder dat die Here my ignoreer, 'n koue skouer draai.  Na aanleiding van 'n preek wat ek ek so twee maande voor die tyd gehoor het, is Jeremia sterk in my gedagte, spesifiek Jeremia 15: 15 - 20 waar Jeremia self met die Here oor sy lewensomstandighede  baklei.  Ek gaan Google met die hoop dat ek op 'n preek sal afkom wat daardie versgedeeltes verder kan belig en vir my antwoorde gee.  Helaas, die eerste bladsy op Google is net vertalings van daardie skrifgedeelte, en so ook bladsy twee.  Op die punt van moed opgee, klik ek op bladsy 3 en in die middel van die verwysings is daar die preek wat vir my die antwoord van die Here is, klinkklaar en duidelik en spesiaal vir my.  Die preek was aangebied by geleentheid dat Katkisante belydenis van geloof gedoen het en hier volg die opsomming:

                               

                         NAGEDAGTENIS

 

Gegrafeer in grafsteengraniet

datum van die eerste asemteug geniet

van datum tot datum ʼn strepie geplaas

dan datum van die laaste asem uitgeblaas

 

Gebore, gestorwe, gebeure relatief kort

wat het tydens die strepie tussen-in geword

word ʼn biografie dalk eendag neergepen

wat het die persoon verloor en wat gewen

 

Die lewe kortstondig soos ʼn blom in die gras

ʼn oomblik van glorie en dan net iets wat was

is die lewenssin om net na jouself om te sien

of andere met godgegewe gawes te bedien

 

Sekulêre sukses word gemeet aan vergaar

maar dié dinge is aan mot en roes geopenbaar

as ʼn persoon blywende nalatenskap wil hê

moet hy soek na ʼn Hemelse skat en daarin belê

 

Materiële dinge se waarde is mindere deug

investering in ander is wat die swaarste weeg

selfvoldaan kan jy terugkyk op geld gemaak

maar is medesiele deur jou optredes aangeraak.

 

Wat is beter?  gerekende en welgestelde pa en ma

of liefdevolle ouers om vir wysheid op te sien na

ʼn testament waaroor die kinders gaan baklei

of tere herinnering van hul deur die Gees laat lei.

 

Wat is beter? net ʼn paar koper muntstukkies gegee

of silwer, tyd en ʼn glimlag aan die karwag bestee

meerderwaardig in ʼn kring van selfvoldanes sit

of knielend, saam vir die gebroke wêreld te bid

 

Tussen Bethelem se krip en Jerusalem se graf

twee strepies horisontaal dwars en vertikaal af

uitgestrekte arms nooi die moeë mensdom kom

vir ewige lewe na die Vader bo, saam met Hom.

 

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page