Dit is 2018. Dit is landswyd droog met kritiese afmetings in die Wes-Kaap. Kaapstad het erge waterbeperkings en skielik begin almal besef dat water nie noodwendig 'n gegewe is nie. Ons dink en ons praat gedurig oor water. Water is eintlik 'n wonderlike ding, kom in verskeie vorme voor en skielik begin 'n mens opnuut water opmerk. Verskillende woorde beskryf dit, dit kan verskillend van kleur wees, water is lewe.
WATER
Glinsterende druppels dou
wat sonligstrale gevange hou
ry op ry neffe mekaar ingepak
op die ragfyn sy van ʼn spinnerak.
As wolke bo dig begin saam te pak
verwag ons reën uit die hemeldak
soms druppeltjies om kwalik nat te word
andersins emmersvol wat benede stort.
Ervaring leer winter is voor die deur
as eerste ryp die grasperk spierwit kleur
winterkoue is uiteindelik in volle swang
as sneeu in lae pak teen die berg se hang.
Winteroggend en mens se warm asem
op die windskerm gedeponeer as wasem
voordat die voertuig vorentoe beweeg
word die nat gryserigheid weggeveeg.
Dansers en atlete se vaardighede wys
as hulle girts-garts skaats oor die ys
ʼn koele lafenis aangebied aan ʼn gas
met ysblokkies wat rinkel in die glas.
In die kombuis ʼn ketel aan die kook
met stoom bollend uit die tuit soos rook
potjiekos op kooltjies stadig aan die prut
onder die deksel ontsnap stoompies pst-pst.
Helder water deursigtig net soos glas
diepe waters blou, troebel grys soos as
kabbel, vloei, stroom, stort en drup
word daagliks deur als wat lewe benut.
Water is kokend warm, lou of ysig koud
dit smaak vars, soet, brak of pekelsout.
water oraloor, in, aan op, onder en omgewe
dit is ʼn integrale deel van als wat lewe.
Water, drie atome as een gemoleluleer
wat vele aansigte na die aanskouers keer
is daar dalk ʼn ooreenkoms te bespeur
as ons dorstig die Lewende Water begeer?