top of page

Ek het tot die besef gekom dat "sien" en in kleur te kan sien eintlik 'n wonderwerk is.  Daar is eenvoudig net soveel skakeringe en dit oefen so 'n groot invloed op ons lewens uit dat dit haas ondenkbaar is dat daar mense is wat blind is, in totaliteit of ten minste vir kleur.  Insgelyks is 'n verhouding met die Lewende God so fantasties dat dit ondenkbaar is dat daat ateiste is of mense wat in ander gode glo.  Net soos 'n mens nie self kan bepaal of kan sien of nie kan jy nie self bepaal om te glo of nie.  Geloof is 'n gawe van God.

       

                   BLINDEMOL

 

Dink net aan die basiskleure soos

in die reënboog vasgevang

of die magdom van skakerings:

subtiel en strelend  of skerp en skel.

Kleure sê: rooi soos 'n tamatie,

die kleur van bloed, borriegeel,

bottelgroen, die kleur van gras.

Potblou, hemelblou en die see

is die kleur van saffier.

 

Vlamoranje, vrolike pienk,

purper en die pers van viooltjies.

Kakie, lila, turkoois, karmosyn

en roesbruin of die kleur van koper.

En om kleur verder af te rond

sien jy helder, dof, metaal,

glansend, glimmend en getint.

Eenvormig of gekol, gevlek,

spikkels, spatsels of gestreep.

​

Kleure, kleure orals oor

en deel van ons bestaan-

amper net soos asemhaal.

En tog ........... om kleur waar te neem

is nie vanselfsprekend nie,

maar voorwaardelik:

'n mens moet kan sien en

kleur is slegs sigbaar in die lig.

 

O, die frustrasie

as 'n blinde persoon jou sou daag:

" bewys kleur aan my. "

Hoewel feitelik soos 'n koei

is dit smaakloos, reukloos,

sonder materie, jy kan dit nie voel.

 

Soortgelyk het die Heilige Gees

my visie verbreed want God

wat verborge was,  het deur Jesus die Lig

sigbaar geword, ek was blind

en nou kan ek waarlik sien!

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page