Die misterie van die Drie-Enige god wat Christene aanbid bly maar 'n groot geheim en word deur baie ander gelowe bevraagteken. Sommige Christene word maklik misllei dat ons almal maar eintlik dieselfde God aanbid, net met verskeie aanbiddingsname. Die groot struikelblok bly maar die mensgeworde Jesus wat ons God uniek maak en wat my aan betref die groot onderskeid maak.
​
GOD DRIE-ENIG
In universiële woordeskat word die term God gevind
en aangewend asof dit alle gelowe tot net een verbind
vir diegene gedetermineerd om die waarheid na te ja
sal krities ondersoekend bly: “Wie is U Here?” vra
Allah alleen is God is wat alle Moslems beslis verklaar
andersyds Jehova alleen is God bly vir Judaïste waar
vir Christene daarenteen sal dit God Drie-Enig wees
wat bely word as die Vader, die Seun en Heilige Gees.
Van ewigheid af genoem “Ons” in dié Goddelike naam
drie unieke persone in dié een Goddelike Wese saam
“Ek is” oneindig, aanvanklik onsienlik en onbekend
met Jesus se menswording sienlik en histories bekend
deur Hom, as Immanuel, het God fisies tot ons genader
en het Christene regtens kinders geword van die Vader
Hy het Sy dissipels van toe, met Sy hemelvaart verlaat
sodat Sy Kerk by die uitgestorte Heilige Gees kon baat.
God is groot, Sy skepping maak dit onteenseglik waar
God is ook Gees, abstrak en dus moeilik om te verklaar
voor die skepping het die Gees op die waters gesweef
is dan met Pinkster as sigbare vlamme van vuur beleef
hemel en aarde se skepping het deur die Woord geskied
van meets af was Jesus dus ook daar om dit te gebied
om God fisies te aanskou het mense nog altyd begeer
Jesus word mens sodat mense met God kan identifiseer.
Jesus, volmaakte mens het God se wese kom openbaar
die “geskape na Sy beeld” vir die verlore mens verklaar
as gebore Jood besny en getrou die Joodse wette gehou
tog teenstrydig verhoudinge met erkende sondaars gebou
nooit gehuiwer om na die arme uitgeworpenes uit te reik
Hy wou hulle genadig laat deel in Sy Hemelse Koninkryk
uitgesproke krities die geestelike leiers gekonfronteer
Sy dissipels die twee groot gebooie van liefde kom leer.
Die Christelike God is nie ver, dominerend en gevrees
inteendeel, Hy strek uit om by en in Sy kinders te wees
Hy neem initiatief, Hy soek, Hy klop, Hy roep, Hy bid
Verhewe God wat nie kan wag om Sy arms om ons te sit
onvoorwaardelik en onbeperk is Sy liefde vir die mens
om sondaars met Homself te versoen is Sy enigste wens
Hy is by uitstek die Gewer van liefde, genade en geloof
reik gerus na Hom, Sy arms is nie te kort, Sy ore nie doof.