Die taal waarna ek verwys, is eerder gesindheid. Gesindheid maak 'n verskil tussen mense. As daar opregtheid is en 'n wil om tot iemand anders deur te dring en 'n positiewe verskil in daardie persoon se lewe te maak, is dit gesindheid wat dit te weegbring. Dit is die vrugte van die Gees waarna Paulus verwys: liefde, geduld, sagmoedigheid, ens. Dit gaan baie selde ongemerk by die ontvanger daarvan verby en dit word nog meer selde nie waardeer nie.
CHRISTELIKE TAAL
Goddelike liefdestaal
word nie deur klankgolwe
en frekwensies beperk-
dit is kommunikasie
wat oor alle grense strek.
Ras, kultuur, selfs eie
moedertaal swig daarvoor
en ook dowe mense kan
dit praat en hoor.
Die praat van hierdie
taal word nie deur
lippe en tong bepaal-
dit is 'n gesindheid wat
uit die hart uitstraal.
Deernis word deur
blink oë oorgesein
en 'n hand om die skouer
bevestig innige samesyn.
Hierdie taal is nie net
bedoel om met jou
medemens te kommunikeer-
dit is 'n liefdesoffer
om God Drie - enig te eer.
Hierdie taal word nie
aan moedersknie geleer -
die Gees verander jou denke -
dit is 'n gawe van die Heer.