Geloofsekerheid. Jesus het vir die hele mensdom se sonde gesterf. Om deel te kry aan die erfenis van die Ewige Lewe by Hom gebeur egter nie automaties nie. In Openbaring 3:20 nooi Hy sondaars uit om Hom as Verlosser te aanvaar, Hom in hulle lewens in te nooi. Open jou hart en jy deel in Sy soenverdienste en jy kry die reg om jouself kind van God te noem.
UITNODIGING
Strate dwars, strate af, strate op,
rye huisies waar iemand kan klop
Almal lyk amper net soos die res,
tog uniek, elkeen met ʼn eie adres.
Inwoners verkies om alleen te hou,
besig met hul eie bak en brou
Menigmaal ʼn klop aan die deur
maar uiters min daaraan gesteur.
Koning kraai op eie werf
en niks wat die vrede bederf.
Met self volkome in beheer
geen rede vir ʼn geopende deur
Hemel op aarde is ʼn feëverhaal
onverwags begin die meul te maal.
Die soekende siel smag na ʼn oor
na iemand wat sy ellende wil hoor.
Ore gespits, oë deurwaarts gekeer
wagtend vir ʼn klop aan daardie deur
Dan Iemand voor die deur se stoep
wat dringend klop en hardop roep:
Geagte vriend, nooi My asseblief in
sodat ons ʼn feesmaal kan begin.
Ek sal die gasheer wees in jou huis,
by My is rus, jy is nou vir ewig tuis
​
Soms word die deur wyd oopgegooi
en die Besoeker hartelik ingenooi.
Helaas, by ander bly die deur gesluit
en so teen genade en redding besluit.