'n Dame in ons Omgeegroep afkomstig van die Upigton omgewing deel met ons die leefwyse daar ervaar. Sy verwys oa na die plekkie Noenieput (wat 'n mooi naam) en die gesprek gaan verder oor die gewoontes van die klein gemeenskappies in die Platteland. Sy vertel toe verder oor die tradisie van soengroet en uit die kostelikhede het die volgende gediggie ontstaan:
SOENGROET IN VOLLE SWANG
In kleiner gemeenskappies op die platteland
word g’n vroumens ooit gegroet met die hand
of besoekers op enige plek arriveer of vertrek
ʼn vrou word vir ʼn hartelike soen nadergetrek
dis ʼn wonderlike tradisie wat eeuelank bestaan
met onbesproke reëls wat meeste mans verstaan
ongelukkig is daar altyd diegene wat belustig raak
en soengroet ʼn nagmerrie vir arme vrouens maak.
Vrouens is maar dié wat die meeste daaronder ly
sommige mans wil graag ʼn liplekker klapsoen kry
hulle wis nie dat hulle optrede afkeer laat ontstaan
hulle dink dis pure genot wat die oege so laat traan
dis nie sommer enige hierjy wat lekker papnat soen
net ʼn ware kampioen kan dit met volmaaktheid doen
dalk tyd om dié gesoenery van naderby te beskou
dames, dis of soen of eerder die arm uitgestrek hou.
Kom kuier en dink hy gaan op die stoep vir jou wag
droom is nie vir die dag dit is gereserveer virrie nag
die voertuig kwalik tot stistand gekom, stof gaan lê
dan hy is reeds daar om hartelik vir jou hallo te sê
die kuiertjie verby, hy kan beswaarlik geduldig bly
sittend op die rand van sy stoel as jy jou ry wil kry
voor jy sê mes, is hy reeds by die voertuig op wag
skaakmat, soengroet is die hoogtepunt van sy dag
Ewe beskroomd bied sy huiwerig ʼn tuitbekkie aan
hy storm in met ʼn mond wat halfpad geopen staan
hy val aan, hy slurp bykans haar hele kakebeen op
so erg dat haar asemhaling uit skrik vir ʼn wyle stop
soos ʼn kameelperd wat blaartjies met ʼn papbek kou
pof sy wange op soos hy haar insuig en gevange hou
sy lippe omsirkel volrond haar gesig wang tot wang
terwyl hy soos ʼn bloedsuier aan haar skouers hang.
Soos eeue later gee hy eindelik asemsmakkend bes
geluid wat klink soos ʼn bees besig om sy dors te les
die wange suig in teen mekaar en die lippe knyp tuit
dan skielik ontspan die spul met ʼn klappende geluid
steierend agteroor, voel sy soos ʼn uitgesuigde lemoen
dinkend by homself, wraggies ek kan darem lekker soen
die onderste gedeelte van haar gesig voel die vel gebrei
ook nie aldag dat ʼn vrou ʼn gratis gesigsbehandeling kry.
Wanneer so ʼn volbek gesoenery ʼn absolute riller raak
is wanneer ʼn snor en / of baard daarby betrokke raak
dan is dit borsels wat steek en dalk borrels wat bewe
net gesigshare of is daar anner goeters wat daar lewe
as die dame in die deurmekaar kraaines verlore raak
vind sy ʼn omgewing wat soms na hoesgoed kan smaak
aaklig of lekker, oor die meriete word dikwels gestry
nie aldag dat enige vroutjie terstond ʼn inrykarwas kry.
Vir mans is soengroet soms ʼn perd van ʼn ander kleur
veral as die verwagting is dat ʼn sagte soen gaan gebeur
party vrouens trek moedswillig hulle lippe so plat en styf
voel of jou eie lippe oor ʼn stomp skeermeslemmetjie vryf
ander knyp daai lippe krimpend koëlrond op ʼn vaste tuit
jy weet nie wat sy gaan doen, jou kus, jou pik of voluit byt
vriend ʼn stukkie goeie advies, voel jy soms ʼn bietjie bang
verbeel jou jy is ʼn Fransman en piksoen haar op die wang.
.