Hierdie gedagtes het by my opgekom toe my Ouma begrawe is. Met die begrafnis is meeste persone al 'n paar dae dood en het die afsterwe reeds plaasgevind. Die begrafnis bly maar simbolies vir die omstanders die laaste afsluiting. Meestal is dit maar stowwerig en met die grouery van die graf is alle plantegroei tydelik daarmee heen, die fisiese graf in die grond dra baie tot die somberheid van die geleentheid by.
DIE GRAF
​
Die aarde is ontsierlik gewond
deur 'n gapende gat wat gaap in die grond
en dit is van alle groenigheid ontdaan,
net stof wat teen die regaf kante bly vasslaan.
Hierdie dimensie in meters van een by twee by twee
is die eindpunt van elke mens se lewensweë .
Die skaduwees kruip kantlangs in die diepte af
na hierdie deurgangspoort vir jou en my - dis die graf.
Deurgang deur die swart omsoomde deurkosyn,
alleen sonder God, geskied met helse pyn
want 'n toekoms wag van gitswart duisternis
waar net geween en gekners van tande is.
Maar met Immanuel 'n hartelike welkomswoord
wat opklink vanuit 'n glansende pêrelpoort.
Van anderkant skyn die Lig in heerlikheid
want daar wag rus by God tot in ewigheid.