Die gebeure met die kruisiging, en daar is soveel, bly maar ongelooflik. Een van die elemente wat nog altyd vir my tekenend van God se genade is, is die misdadiger wat saam met Hom gekruisig is. Die bybelverhaal verwys na die feit dat beide misdadigers, (en sommer so terloops was dit toeval dat hulle juis links en regs van Hom gekruisig is?) Hom aanvanklik bespot het. Dan gebeur iets onverklaarbaar en waarskynlik sonder intervensie van enige mens wat daar teenwoordig was, verander hy van deuntjie. Dit kan net die Heilige Gees wees wat daar werksaam geraak het, letterlik op hierdie persoon se sterfbed. Ek probeer sy ervaring van die kruisiging
KRUISERVARING
Vloekend en skreeuend word hy uit die sel gesleep
na buite waar hulle sy vlees brutaal oopkloof met 'n sweep.
Met skoppe en slae word hy onder 'n houtkruis voortgedwing
na buite die stad waar die Romeine geregtigheid sou volbring.
Strompelend onder sy sware las hoor hy die gejil en gespot
van 'n bloedhonger skare wat hulle verlustig in sy lot.
Sy vyande skree om wraak en verdoem hom tot die hel
terwyl hulle speeksel meng met die bloed op sy vel.
Sy gemoed is swart, sy hart 'n klipharde kou vol haat
wat hy teen God, homself en die hele mensdom hou.
Sy oë straal donker venyn en uit sy mond borrel vloeke kru
terwyl hy vergeefs oor droeë, gebarste lippe probeer om terug te spu.
Hy gil en voel die naarheid in sy binneste opbruis
as die wrede spykers sy vlees en beendere vergruis.
Die pyn begin soos brandende vuur deur sy senuweepunte gaan
wanneer die soldate die kruis optel en regop maak staan.
"Red jouself, Koning van die Jode" hoor hy deur sy pynbenewelde verstand
en hy word bewus van die figuur aan die kruis op sy linkerkant.
Hy sien die oë sonder haat en hoor die stem is stom
en hy begin sy woede en diepgewortelde haat fokus op Hom.
Skielik, onverklaarbaar, begin 'n vreemde gevoel in sy hart deurbreek,
hý, wat geen genade ken en homself altyd op andere wreek,
begin met diep emosie jammerte en meegevoel ervaar
vir hierdie besondere persoon wat sonder verwyt na hom staar.
Die besef dring tot hom deur dat hyself sy straf verdien
as hy sy eie verdorwe geskiedenis in sy geestesoog sien
maar hierdie man onregverdig beskuldig en verhoor
verdien nie om sy lewe op hierdie manier te verloor.
Hy wat sy hele lewe lank fladder soos 'n blaar in die wind
weet meteens dat hy by hierdie man vrede kan vind.
In sy sterwensuur aan die kruis, op Golgota, daar
word sy verlosser: Jesus, aan hom ge-openbaar.
"Koning Jesus! Al wat ek nou pleitend van u begeer,
moenie van my vergeet as U, in U koninkryk regeer!"
Met blydskap hoor hy die oorvloedige genade aan hom bewys:
"Ek verseker jou, vandag sal jy met my wees in die paradys.