top of page

Mei 2018.  Ek lees die Tien Gebooie in Eksodus 20.  In vers 11 wat handel oor die Sabbatdag word die aanhaling gemaak: God het die hemel en alles daarin, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin gemaak en op die sewende dag het Hy gerus.  DIe gedagte het by opgekom dat die mense van daardie tyd min begrip oor die hemel gehad het en ingelyks ook oor die see, die aarde het hulle elke dag ervaar, daarom word daar na "op" verwys versus "in" by die hemel en see.  Hoe dit ookal sy, met die kennis wat ons vandag het, word God se skeppingsmag net groter en bly die detail en omvang van die skepping vir my net ongelooflik.  Prys die Here!        

 

                     EKSODUS 20: 11

          DIE HEMEL EN ALLES DAARIN.....

 

My oë priem die hemelruim

terwyl ek opkyk na God se sterretuin

miljoene spikkels wit

wat flonkerend teen ʼn swart lap sit

van dofweg klein

tot grotes wat helderblou skyn

op dié kunstenaarsdoek

bly my oë die sterrebeelde soek

soos Suiderkruis

en Orion wat kolossaal oor alles verrys.

 

Elke keer verstom

dat die prent nie van ʼn plat vlak kom

maar driedimensioneel strek

oor afstande in duisende ligjare uitgewerk

sterretjies klein

tog waarin die son duisende kere verdwyn

verterende vlamme vuur

wat lig tot aan die heelal eindes stuur

lankal uitgebrand

maar oneindigheid hou ligstrale in stand.

 

Die dag breek

die sterrehemel word in sonlig weggesteek

Oos karmosynrooi

omgetower na blou soos die dag ontdooi

die son prominent

in sy gang daarbo wat na die Weste wend

laatmiddag voel

asof die vuurbal uitasem raak, die lug verkoel

kaleidoskoop kleure skyn

soos die son geleidelik dan vinnig verdwyn.

 

Elke nuwe dag

word op die Kunstenaar se impressionisme gewag

wat met wolke speel

die lug daarbo in blou, grys, swart en wit verdeel

soms strepe slierte verf

of bolwangstapels asof uit spierwit marmer kerf

of kartel en kam

soos brandertjies op die oppervlak van ʼn dam

soms ʼn grys gordyn

toegemaak alle ander kleure daarbo laat verdwyn

 

              DIE AARDE EN ALLES DAAROP.....

 

Unieke blou planeet

wonderbaar deur God beplan en uitgemeet

driekwart oppervlakte see

die ander as land aan mens en dier gegee

die landmassageheel

in sewe kontinente oor die oseane verdeel

geleë alle kante van die sfeer

bring blootstelling aan verskillende tipes weer

ekosisteme ontstaan                 

waar verskillende fauna en flora by bestaan.

 

God’s kunstenaarshand

sigbaar oor berg en dal, van kus tot binneland

landskappe ontstaan, verdwyn

vlaktes, vlei, krater, klip, moeras, bar woestyn

sand, leem en klei

afsonderlik of gemeng in die grond te kry

rotse, kranse, klippe gekleur

gespoel, gestol, gesteen besig om te verweer

water, blinkend of blou

kabbelend vloei of staande in poele, mere hou.

 

Smaak, sien, voel en ruik

die verskeidenheid van ʼn asemrowend planteryk

eensellig in swam en mos

tot gras, struik en boom in die veelvoud van bos

ontkiem en vergaan

waar die saad val daar bly die plant lewenslank staan.

blomme versier

en plant en vrug dien as voedsel vir mens en dier

hout brand of bou

die natuur se bydrae om die mens in stand te hou

 

Beweging waar jy kyk

op pad êrens heen, kenmerkend van die diereryk

vlug, vreet of jag

dit seil, vlieg,  waggel, wriemel, wei dag en nag

van onsigbaar vir die oog

tot reuselywe tonne swaar, koppe hemeelhoog

nie ʼn oomblik stil

die lug met vlieënde insekte, diere en voëls gevul

as heerser gekroon

mense van alle tale, kulture wat die wêreld bewoon.

​

                   DIE SEE EN ALLES DAARIN.....

​

Water, nogmaals water

deinings dryf van diep tot branders teen rotse klater

strande wit omsoom

hou die magtige watermassa tot sy grense in toom

gedurig aan die woel

stromend, brekend tot waar water in poeletjies spoel

turkoois by koraal

branderskuim wit en donkerblou waar die dieptes daal

water smaak sout

louwarm in die trope, nader aan die pole vriesend koud

 

Lewensvorme wemel

oor die wye spektra van hierdie waterhemel

swem, kruip en dryf

al wat stilsit, is die skulpe geanker aan rotse styf

dis of alles sweef

tog vinnig deur vinne of spuitstelsels voortgedreef

suurstof word uit water absorber

vir asem moet ʼn paar terug na die oppervlakte keer

vir kos word of geaas

of speel die grootste en effektiefste predatore baas

 

Van alles en nog wat

onbekend wat nog weggebêre is in die see se skat

wesens tuis op sand

andere skuil  weg tussen korale of rots se wand

visse vaartbelyn

swiepend deur die water seeleeu, rob en pikkewyn

krappies wat in poele speel

tot vreemde karikature wat die donker dieptes deel

kreef en garnaal

haai, orka, seekat en walvisse met plankton as maal.

 

Die oseane word ook betree

deur mense wat daaruit lewe en ook benut as weë

vissermanne vaar daagliks uit

keer  saans terug  leeg of vol visse saam in die skuit

skepe steek oseane oor

van hawe tot hawe met vragwerk vir die stuwadoor

Jona het van God probeer vlug

na drie dae in die vis se buik was hy gestrand terug

die see altyd onder God se wil

Jesus stap op die see, Hy beveel die stormsee stil.

 

                    GOD HET GERUS..... 

 

God het op aarde neergedaal

eers woes en leeg volgens die skeppingsverhaal

alles wat daar is

het God gemaak en op die sewende dag gerus

die werk voltooi

God het behaaglik teruggestaan, dit was mooi

Hy het gevorm en geverf

niks was verkeerd nie, niks het die prag bederf

van hoek tot kant

hemel, aard en see geskryf deur Sy Skeppershand

 

Met alles bo gesê

die omvang  van die skepping is kwalik blootgelê

baie reeds geopenbaar

maar nog so baie wat die mens nie kan verklaar

hoe objekte eintlik lyk

te klein, te ver, net eenvoudig  buite ons sigbereik

en niks is geïsoleer

daar is gedurig interaksie tussen als heen en weer

niks bestaan individueel

alle skakels saamgevoeg vorm ʼn ketting in geheel.

 

ʼn Onuitputlike bron

van skeppingswerke wat alles van God af kom

soveel gemaak

mense se ondersoekdrang kan nie uitgeput raak

en hoe meer ons leer

so ontdek ons dat God’s wysheid en almag is meer

ver bo ons verstand

alles sienlik en onsienlik is gemaak deur Sy hand

die mens die kroon

alles gemaak sodat ons die skepping kan bewoon

 

Gegee om te bewerk

die onderskeie skepsels met unieke name te merk

gegee om te geniet

die harmonie wat God se ganse skepping ons bied

mens as heerser aangestel

om aan God en mekaar van Sy skepping te vertel

van Sy teenwoordigheid bewus

saam met ander in Sy wonderlike skepping te rus.

satan en sonde verskyn

die mens uit die Paradys en vrede en rus verdwyn.

                                                                      


 

Call


 

Contact

 


 

Follow me

 

  • facebook
  • Twitter Clean
  • w-googleplus
bottom of page